Dagstukkies met CLF 23 April 2020
April 23, 2020
Mense is min werd
“Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd.”
(Jesaja 2:22)
Dit klink so verkeerd om te sê dat mense min werd is. Daar is dan so baie mense wat ons respekteer en na wie ons gaan om hulp te kry, soos ons ouers, ons vriende en familie, predikante, kundige mense, wyse mense. Mense wat deur die jare vir ons so baie dinge geleer het, is vir ons kosbaar.
Natuurlik is mense baie werd. Maar Jesaja het ons teksvers geskryf omdat die Israeliete op mense en volke vertrou het. Hulle het op mense alleen vertrou. Hy waarsku die Israeliete om net op God te vertrou. Hy alleen is altyd betroubaar. Hulle moet hulle bekeer, en hul geloof en vertroue in die Here stel. Dan sal God weer goed wees vir sy volk, en hulle red uit die mag van die vyande.
Ja, ons kan soms staatmaak op mense, maar ons moet altyd op God vertrou. Hy is groot en almagtig en kan baie meer doen as mense.
Betroubare Here, dankie dat U alles in my lewe is. Help my om op U te vertrou. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.