Dagstukkies met CLF 21 Oktober 2020
Oktober 21, 2020
Sê dankie
“God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here”
(1 Korintiërs 1:9)
Ons kom nou by die volgende brief in die Bybel, aan die Korintiërs. Paulus het self hierdie gemeente in Korinte begin, en van die briewe wat hy aan hulle geskryf het, is twee in die Bybel opgeneem.
Aan die begin van sy brief sê hy dankie aan God vir sy genade wat Hy aan mense bewys. Paulus sê ook dankie dat die Korintiërs God se boodskap aanvaar het en dat hulle tot die einde toe sal vas staan in hul geloof.
Hoeveel keer sê ek en jy vir God dankie vir wat Hy vir ander mense doen? Ons bid so baie net vir onsself, en ons vra so baie dat God vir ons moet seën en help. Dan vergeet ons soms om vir God ook dankie te sê vir sy seën aan ander. Ons behoort almal aan God, en God is goed vir al sy kinders, daarom moet ek en jy ook vir God dankie sê vir dit wat Hy vir ander doen.
Dankie, liewe Heer, dat U vir al u kinders op aarde sorg. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.