Dagstukkies met CLF 20 Oktober 2020
Oktober 20, 2020
Arm gemeentes
“Maar nou is ek eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar”(Romeine 15:25)
Almal van ons weet dat daar baie arm mense in die wêreld is. In baie lande is daar hongersnood, en daardie lande het nie geld om kos vir die mense te voorsien nie.
Hier in Romeine skryf Paulus van die mense in Jerusalem wat arm is. Hulle het swaar gekry onder droogtes, misoeste, en ander probleme. Die gemeentes waar dit beter gegaan het, het geld bymekaar gemaak, en vir Paulus gevra om dit na die gelowiges in Jerusalem te neem. Dit is deel van die kerk se werk.
Ons gee so maklik geld uit op onnodige dinge. Dit is ons plig om vir God se werk ook geld te gee. Ons ontvang so baie van die Here, en daarom moet ons uit dankbaarheid ons deel doen dat ander ook kan lewe. Probeer om altyd iets af te knyp vir die saak van die Here.
Vader in die hemel, dankie dat U vir my sorg. Laat my ook vir u werk bydra. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.