Dagstukkies met CLF 19 April 2020

April 19, 2020

God gee alles

“Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?” (Prediker 2:25)

 

Ons kom nou by die boek Prediker. Die prediker het skerp gekyk na alles, die natuur en oor die verloop van ’n mens se lewe. Hy het allerhande diep vrae gevra, soos of dit regtig die moeite werd is dat die mens homself so moet inspan om te kan lewe. Dit lyk vir hom asof wyse mense, dwase mense en diere almal dieselfde pad moet loop, almal gaan eendag sterf.

Nadat die prediker oor alles nagedink het, kom hy tot die gevolgtrekking dat dit ’n gawe van God is om te lewe en die lewe te geniet. Daarom moet ons die Here dien. Dis die diepste bedoeling met ons hele lewe, die sin van ons bestaan.

Dit is God wat alles vir ons moontlik maak. Alles wat ons besit, alles wat ons geniet, ons gesondheid, ons kos en klere, alles kom uit die hand van die Here. Daarom is dit die moeite werd om God te dien en om sy Naam hier op aarde groot te maak.

Dankie Here, dat U so baie vir my gee en doen. Help my om elke dag daarvoor dankbaar te wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.