Dagstukkies met CLF 17 Oktober 2020

Oktober 17, 2020

Hoe lewe jy?

“Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee”

(Romeine 14:12)

Elke mens het die reg om te lewe soos hy of sy wil. Ons kan elkeen self besluit watter werk ons wil doen. Ons kan ook besluit waar ons wil woon en wat ons wil aantrek. Deur ons lewe is daar elke dag keuses wat ons moet maak.

Die grootste keuse of besluit wat ons moet maak is of ons die Here gaan dien of nie. Omdat ons nou al so baie van God geleer het, kan ons eintlik nie anders as om Hom te kies nie. God is so groot en doen so baie vir ons. Ons moet weet dat die lewe sonder Hom, om nie te praat van die ewigheid nie, hopeloos is.

In ons teksvers staan dat elke mens oor homself aan God moet rekenskap gee. As jy aan God behoort, hoef jy nie bang te wees om eendag voor Hom te staan nie. God ken jou en weet jy is sy kind. Hy sal jou innooi in sy koninkryk.

 

Help my, Here, om so te lewe dat ek nie hoef bang te wees om aan U rekenskap te gee nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.