Dagstukkies met CLF 17 Maart 2020
Maart 17, 2020
Wat kan ek vir God gee?
“Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?” (Psalm 116:12)
In hierdie Psalm vra die skrywer wat hy vir God kan teruggegee vir alles wat hy van God ontvang. Hy antwoord sommer self: “Ek sal dankie-sê offers bring, om so te getuig van die Here se grootheid en goedheid. Ek sal vertel van sy redding. Ek sal die Here dien en liefhê”. So sal hy die Here vergoed vir alles wat Hy doen.
Ons ontvang so baie van die Here. Ons verdien ook nie al die goedheid van die Here nie. Die heel beste wat ons ontvang het, is dat Jesus vir ons sonde gesterf het. Dan ontvang ons ook nog goeie gesondheid, ons het kos en klere, ’n huis om in te bly, familie en vriende wat vir ons goed is, ons het ’n werk, daar is te veel om op te noem.
Wanneer jy voel om vir God iets terug te gee, wees net lief vir Hom, getuig van die Here, en sê elke aand vir God dankie vir al die baie dinge wat God so onverdiend aan jou gee.
Here, ek wil so graag vir U lief wees. Help my om dit reg te kry. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.