Dagstukkies met CLF 16 Oktober 2020

Oktober 16, 2020

Wees lief vir almal

“Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet”
(Romeine 13:10)

Paulus skryf hier aan die Romeine en sê dat as ons ons medemens liefhet, dan kom ons die hele wet van God na. In Eksodus 20 lees ons van God se wette wat Hy vir ons as mense voorgeskryf het. As ons God en mekaar liefhet, dan kom ons al daardie gebooie na. Dan sal ons nie ’n ander se goed steel nie, ons sal ook nie moord pleeg nie, ons sal nie egbreuk pleeg nie, en ook nie ’n ander se goed begeer nie.

Dink net hoe vreedsaam dit hier op aarde sal wees as almal mekaar sal liefhê. Dit is nie so maklik om vir alle mense lief te wees nie, maar dit is tog wat God van ons vra. Liefde is meer as om van iemand te hou. God het in Jesus vir ons gewys wat ware liefde is. Hier op aarde is dit maar moeilik, maar in die hemel sal daar net vrede en liefde wees. Die Here belowe ons dit, en Hy sal ons ook hiermee help.

 

Vergewe my, Here, as daar mense is vir wie ek nog nie opreg liefhet nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.