Dagstukkies met CLF 13 September 2020

September 13, 2020

Die Heilige Gees

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle

in die hele waarheid lei” (Johannes 16:13)

Ons lees die Bybel, maar daar is baie dinge wat ons nog nie verstaan nie. Daar is God wat die Vader is, Jesus wat sy Seun is en wat aarde toe gekom het. Dan is daar ook nog die Heilige Gees. Tog is hierdie drie Persone één God – Die Bybel praat van die Drie-enige God. Ons met ons menslike verstand kan dit amper nie verstaan nie.

Vir my is dit die maklikste om te verstaan as ek daaraan dink dat dit een God is met drie verskillende werke. God is die Vader wat alles geskep het en wat oor alles beheer het. God is ook Jesus, die Een wat vir ons sondes gesterf het. Nadat Jesus opgevaar het hemel toe, het God as die Heilige Gees gekom wat in ons harte woon. As ons God se kinders is, woon die Heilige Gees in ons en leer ons om op God te vertrou.

Die Bybel sê dat jy nie nou alles sal verstaan nie. Glo net in God die Vader, Jesus en die Heilige Gees. Eendag in die hemel sal jy alles verstaan.

 

Here, dankie dat die Heilige Gees ook in my woon. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.