Dagstukkies met CLF 13 Oktober 2020
Oktober 13, 2020
Hoe leef ’n Christen?
“Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense”
(Romeine 12:17)
Al is ons kinders van die Here, is daar so baie wat ons nog oor Christenskap wil weet. Een van die vrae is: hoe moet ek en jy leef om ware kinders van God te wees? In Romeine 12 vanaf vers 9 tot 21 gee Paulus vir ons die riglyne vir die Christelike lewe. Dit is so ’n mooi gedeelte dat jy dit gerus in jou Bybel kan onderstreep.
Een van die riglyne is om nie vir iemand kwaad te wees as jy kwaad aangedoen is nie. Dit is nie so maklik nie, maar die Here verwag dit van ons. Ons moet mekaar vergewe, en goed wees vir alle mense. Onthou net, die Here ken elkeen se hart en Hyself sal oordeel oor die mense wat jou kwaad aandoen.
As iemand jou weer beledig of kwaad aandoen, dink aan hierdie gedeelte in die Bybel, wees die minste, en die Here sal trots wees op ’n kind soos jy.
Help my, Here, om vir alle mense te wys dat ek aan U behoort. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.