Dagstukkies met CLF 12 Julie 2020
Julie 12, 2020
God sal beloon
“Wie aan een van hierdie geringstes net ’n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle” (Matteus 10:42)
Jesus se opdrag aan sy dissipels was dat hulle aan die geringste en eenvoudige mense goed moet doen. Die dissipels moes omsien na elkeen wat behoeftig of in nood is. God sal hulle beloon selfs as hulle vir iemand net ’n beker koue water gee.
Dit geld sekerlik vir ons ook. Dit geld ook as God se wil vir ons. Die Here sien wanneer ons iets vir ander doen. Selfs al is dit iets kleins wat ons vir iemand doen, God sal ons beloon.
Probeer van vandag af om elke dag vir iemand iets goeds te doen, soos om ’n ou mens oor die straat te help, of om ’n klein kindjie te troos wat huil, of om vir ’n arm mens iets te gee. Dit sal God se hart baie bly maak. God sal jou daarvoor beloon.
Here Jesus, help my om ander se nood raak te sien.
Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.