Dagstukkies met CLF 10 September 2020
September 10, 2020
God se mense
“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle
dissipels van My is” (Johannes 13:35)
Judas was een van Jesus se dissipels. Hy was altyd saam met die ander elf dissipels by Jesus. Hy het ook van Jesus geleer en het gesien hoe Jesus mense liefgehad het. Maar in sy hart was daar nie opregte liefde nie. Ons lees hoe hy Jesus verraai het sodat die soldate vir Jesus gevange kon neem.
Ons moenie soos Judas wees nie. As ons mekaar liefhet, sal mense sien dat ons God se kinders is. Dink net hoe ’n beter plek die wêreld sou wees as ons mekaar sou liefhê soos Jesus vir ons liefhet. Daar sou nie geweld en misdaad wees nie. Ook sal lande nie teen mekaar oorlog maak nie. Maar dis die duiwel wat liefde uit mense se harte wegneem. So word alles wat mooi kon wees lelik.
Leef elke dag saam met Jesus, wees lief vir ander mense, en jy sal die wêreld ’n beter plek maak.
Dankie, Here, dat ek u dissipel kan wees. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.