Dagstukkies met CLF 10 Julie 2020

Julie 10, 2020

Swaarkry lê voor

“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe” (Matteus 10:16)

Nadat Jesus aan sy dissipels die opdrag gegee het om sy Woord te gaan verkondig, het Hy hulle ook gewaarsku. Jesus sê dat dit nie ’n maklike taak gaan wees nie. Soos ons teksvers sê, sal hulle soos skape wees tussen wolwe. Ons weet dat wolwe skape sal verskeur en doodmaak.

Wanneer ons getuig van Jesus, en ander mense vertel om sy wil te doen, sal ons ook probleme kry. Mense sal met ons spot en probeer om ons kwaad aan te doen. Sommige mense is al in die tronk gegooi omdat hulle God se Woord verkondig.

Gelukkig gee Jesus ook goeie raad vir sy dissipels. Net soos die dissipels moet ons ook versigtig wees wat ons sê en doen. Ook moet ons opreg soos duiwe wees, sodat mense met respek na ons sal luister. Vra net elke dag dat die Here jou sal lei en die regte woorde in jou mond sal lê.

 

Here, U wat ons stuur, help my om opreg te wees as ek u werk doen. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.