Dagstukkies met CLF 1 Julie 2020

Julie 1, 2020

Skatte in die hemel

“Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie”

(Matteus 6:20)

Elke mens wil graag besittings hê. Ons werk hard om mooi klere, ’n lekker huis, goeie meubels en ook ’n spoggerige motor te kan besit. Die groot gevaar is dat ons so baie wil besit dat ons vergeet van die Here. Sommige mense dink met hul geld kan hulle alles regkry en dat hulle God nie nodig het nie. Wat hulle vergeet, is dat alles van God af kom.

Die Bybel leer nou vir ons dat ons skatte in die hemel moet bymekaar maak. Hier op aarde gaan alles tot niet, en ons kan dit ook nie eendag, as ons doodgaan, saamneem nie.

As ons vir Jesus aangeneem het, Hom dien en gehoorsaam, het ons reeds ’n skat in die hemel wat nooit sal vergaan nie.

 

Dierbare Here, help my om hard te werk om vir my skatte in die hemel bymekaar te maak. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.