Begin jou dag met Helané
April 1, 2019
Dagstukkies Met …is Radio Tygerberg 104fm se daaglikse artikels op ons blog. Hierdie week, skryf Helané Theunissen, Administratiewe Assistent by die Bloudruk Groep, ons dagstukkie. Die tema van die week is #Waardevol.
Helané se reis by Radio Tygerberg 104fm het in September 2018 begin nadat sy ‘n pos as junior skakelbeampte aanvaar het. Dit was gou duidelik dat sy ‘n ongelooflike passie vir skryf – veral geestelike liedere het. Sy is ‘n opgeleide regssekretaresse en haar oog vir detail, georganiseerde en rustige geaardheid en vermoë om in moeilike en uitdagende omstandighede kalm te bly, het haar vinnig baie geliefd gemaak. Sy was betrokke by die stasie se 25ste verjaardagviering, #VREESloos2018, toergroepe en die webtuiste en sosiale media voordat sy die pos by die Bloudruk Groep aangebied is.
Helané geniet dit vreeslik baie om navorsing te doen, veral nadat die Here vir haar ‘n droom gegee het. In die proses doen sy ook navorsing van die Hebreeuse kultuur, alfabet, syfers en die betekenisse en verborgenhede wat daarin wegkruip. Sy is ook baie kunstig en het die ikone van elke skrywer in ons Dagstukkies met…reeks ontwerp.
Helané is getroud met Darius, ‘n metroloog wat grootgeword het in Wellington. Hulle woon in Bellville en is gereelde gesigte by Boston Coffee waar Helane altyd ‘n flat white en Darius ‘n Cortado bestel.
Haar droom vir Radio Tygerberg 104fm is om vol te hou om Jesus Christus uit te leef en om die ware godsdiens en aanbidding in Kapenaars se harte te herstel.