#VREESloos 2018

18 Oktober - 20 Oktober, 2018

BESONDERHEDE

18 Oktober - 20 Oktober, 2018

3:00 nm - 3:00 nm

#VREESloos met Tygerberg 104FM, Tygervallei en TygerBurger

Wanneer 40 leerlinge van 4 verskillende skole vir 24 uur in 4 motors deur ‘n reeks senutergende uitdagings #VREESloos vasbyt en boonop die hele tyd moet wakker bly, is dit meer as net ‘n nuwe manier om teen mekaar mee te ding en boonop met hope prysgeld weg te stap.  Dit is ‘n standpunt wat hierdie jongmense saam met Tygerberg 104FM, Tygervallei Winkelsentrum en die TygerBurger inneem, om die vrees in ons land intensioneel te verskuif na gees vir ons land!

Van 18 tot 20 Oktober 2018 gaan leerlinge van Hoërskool DF Malan, Hoërskool Tygerberg, Hoërskool Bellville en Hoërskool  Durbanville by Tygervallei Winkelsentrum aanmeld om die avontuur van onvoorspelbare aktiwiteite te trotseer, kriewelrige goggas en gedoentes kaal hande te hanteer en met tye ook ‘n paar onherkenbare vreemde disse te verteer. Die bangjan wat nie die uitdaging kan voltooi nie, word uitgeskakel totdat die skool met die meeste deelnemers wat oorbly as die wenner gekroon word.

Benewens die gesogte titel, sal die wenskool van #VREESloos2018 met R150 000 se pryse wegstap, insluitend R30 000 kontant en lugtyd op Tygerberg 104FM ter waarde van R100 000.

Terwyl die VREESloses vir 24 uur hul deursettingsvermoë tot die uiterste in die motor beproef, gaan ons ook loer na die res van die skool se geesdrif, vurigheid, entoesiasme en ondersteuning op sosiale media. Die skool met die hoogste sosiale media aktiwiteit, gemeet aan die aantal “likes” en kere wat dit op sosiale media gedeel word, gaan beloon word met ‘n R5 000 kontantprys met die komplimente van TygerBurger.

Terselfdertyd gaan elke skool op ‘n trapfiets sy-aan-sy met die VREESloses in die motor vir 24 uur op ‘n aflos basis deelneem aan ‘n “spinathon” om geld in te samel vir ‘n welsynsorganisasie van die skool se keuse. Die skool wat die meeste kilometers afgelê het in die 24 uur, ontvang R5 000 – geborg deur Herbal Iceman – ten bate van die betrokke welsynsorganisasie. Al die uitdagings sal Donderdag 18 Oktober na 16:00 vanaf Radio Tygerberg 104fm se FaceBook-blad besigtig kan word en skenkings sal vir www.backabuddy.co.za gedoen kan word.

Soveel Suid-Afrikaners leef in verlammende vrees vir verskeie dinge in ons land.  Ons wil hierdie jongmense se vrees vir hulle toekoms verskuif na gees vir ons land en ons toekoms!

#VREESloos 2018 word aangebied deur Radio Tygerberg 104fm, TygerBurger & Tygervallei Winkelsentrum in vennootskap met Barlo World Toyota Tygervallei, On the Edge Tutoring en Centorion Academy. Produkborge sluit in Herbal IcemanMontagu Droëvrugte en Neute en Virgin Active Tygervallei.

Vir verdere inligting of om betrokke te raak by hierdie projek, stuur gerus ‘n e-pos aan Adrie Jurgensen – adrie@104fm.co.za en maak beslis ‘n draai by Tygervallei Winkelsentrum vanaf 15:00 op Vrydag 19 Oktober – as jy dit wil waag!

#VREESloos2018. Wie’s bang?