Projek SOS200 vir boere in nood (LUISTER ONDERHOUDE)
26 Augustus - 30 Augustus, 2019
* Hierdie gebeurtenis het reeds plaasgevind

BESONDERHEDE
26 Augustus - 30 Augustus, 2019
6:00 vm - 10:00 nm
Met die einde van Projek #SOS200 word die droogtehulp-aflosstokkie aan Burre Burger oorhandig deur Johann Louw (links) en Hardus Zevenster van Radio Tygerberg 104fm met die spesifieke versoek om die R100 000 vir humanitêre hulpverlening te gebruik.
ProjekSOS200: Soveel meer as net ‘n uitreik
https://www.facebook.com/Tygerberg104FM/videos/1289887201193642/
DEUR ADRIE JURGENSEN
‘n Paar duisend koppies boeretroos
65 ton afrondkorrels
133 ton kuilvoer
168 ton gars bale
30 ton aartappels
486 boere en
1 600 kilometer later!
Dit is Radio Tygerberg 104fm se Projek #SOS200 in syfers. Netjies opgesom en afgerond. Maar hierdie projek is soveel meer as net syfers. Dit is ‘n projek wat nie net lewensnoodsaaklike veevoer na boere in die droogte geteisterde dorpe van Carnarvon, Williston en Sutherland geneem het nie, dit is ‘n lewenslyn van hoop. Een wat ‘n rippeleffek tot gevolg gehad het.
“Hierdie is ‘n droogte wat geharde manne in trane het. ‘n Trotse gemeenskap wat ‘n paar jaar gelede nog gereeld hand in eie sak gesteek het wanneer skenkings vir skole of behoeftiges gevra is. Dit is nou die manne wat in kilometer lange toue in hul bakkies sit en wag vir uitdeelvoer sodat die skape wat oor is net ‘n bietjie kan kry om te eet. Dis ‘n hartseer gesig. En tog, ten spyte van die groot nood en hartseer bly dit planmakers, hartsmense, geloofsmense, mense wat jou nooi vir ‘n koppie koffie, selfs al is daar lank reeds nie meer suiker in die huis nie,” So praat Sedrick Taljaard, algemene bestuurder van Radio Tygerberg 104fm en saam met Adri Williams van Khayelitsha Cookies die dryfkrag agter #SOS200.
“Ons het in 2016 saam met Adri ‘n baie suksesvolle droogteprojek, #SOS100 na die boere in die Noord-Kaap gehad om te help met die droogte wat toe reeds handuitgeruk het. Nou, drie jaar later is ons terug want die droogte het nog nie gebreek nie.”
Projek #SOS200 het aan die einde van Augustus afgeskop en fondse ingesamel vir lewensnoodsaaklike veevoer vir boere in die Noord-Kaap. Dit het ook met ‘n uitreik na Williston, Carnarvon en Sutherland gepaard gegaan. Luisteraars van Radio Tygerberg 104fm is uitgenooi om R200 te skenk wat ‘n sak veevoer kon koop. Een sak voer gemiddeld een skaap vir 25 dae, of 25 skape vir een dag. In tye van droogte, rek die boere die voer en kry die diere soms minder as die helfte daarvan. Met die fondse wat ingesamel is, kon Radio Tygerberg 104fm 486 boere elk met 700kg se voer seën.
‘n Week is afgestaan om die projek op lug te dryf en talle organisasies soos Droogtehulp met Burre Burger, Boere Droogtehulp SA, Boere in Nood en verskeie Boereverenigings het waardevolle blootstelling gekry om bewustheid te skep vir die werklikheid wat baie stedelinge nie ken nie.
Aan die einde van die projek, kon Radio Tygerberg 104fm die aflosstokkie in die bekwame hande van Burre Burger oorlaat deur ‘n skenking van R100 000 aan sy Droogtehulp fonds oor te betaal wat spesifiek vir humanitêre uitreikaksies gebruik gaan word. Intussen het verskeie kerke ook insamelings begin hou vir die gesinne van die SOS200 dorpe met gemeentes wat kos- en omgeepakkies, nie-bederfbare produkte asook ander noodsaaklikhede insamel en aflewer het (*sal afgehandel wees wanneer JUIG op rakke is)
“Selfs al kry die Noord-Kaap nou bogemiddelde reën, het die veld tyd nodig om te herstel. In hierdie tyd kry die gemeenskappe nie ‘n inkomste nie en stuur ons op ‘n reuse humanitêre krisis af. Ons vat graag hande met Burre wat reeds meer as 1000 uitreike vanaf 2016 gedoen het en deur die noodspense, prakties help om hoop sigbaar te maak,” sê Sedrick.
Radio Tygerberg 104fm wil graag elke luisteraar wat ‘n bydra gemaak het asook die volgende borge en skenkers bedank en Suid-Afrikaners en veral maatskappye aanmoedig om by geregistreede droogtehulp-organisasies betrokke te raak om ons landbougemeenskappe deur hierdie krisis te help.
Met dank aan
Radio Tygerberg 104fm luisteraars
Alle skenkers
Cobra Vervoer
Ciro Koffie
Khayelitsha Cookies
Barlow World Toyota
Ralph Swart Boerdery
Uitreik-vennote
Gemeente van die Wynstok
Droogte Hulp met Burre Burger
Boere Droogtehulp SA
Boere in Nood
Save the Sheep
Boereverenigings van Williston, Carnarvon en Sutherland.
In Februarie 2016 het Radio Tygerberg Projek SOS100 geloods om fondse in te samel vir die aankoop en lewering van broodnodige veevoer vir boere in die droogte geteisterde Noord-Kaap.
Dit is nou drie jaar later en steeds is die droogte nie gebreek nie. Inteendeel die droogte krisis het sedertdien ontaard in ’n humanitêre krisis met van die boere wat dit skaars kan bekostig om vir kos, mediese dienste en selfs kinders se skoolgeld te betaal.
- Radio Tygerberg 104fm het daarom besluit om weer te help en samel hierdie week van 26-30 Augustus met Projek SOS200 geld in vir dié boere in nood.
- Die aanvanklike mikpunt is om boere van veevoer te voorsien in die Williston, Carnarvon en Sutherland streke, en die hulp dan na gelang van die beskikbare fondse verder uit te brei na ander behoeftige streke.
- Radio Tygerberg 104fm nooi jou met Projek SOS200 uit om saam met ons hande te vat om die droogte nood te verlig.
- Die gemiddelde koste vir ‘n sak veevoer is R200 en jy kan een of soveel sakke as wat jy wil borg.
- Whatsapp die woord SOS200, die bedrag wat jy bydra en jou naam na 084 66 14 104 of sms dit na 32716.
- Betaal dan die bedrag elektronies in in Radio Tygerberg 104fm se bankrekening met SOS200 as verwysing.
- Betalings in kontant of per kaart kan ook gedoen word by Radio Tygerberg 104fm se kantore tydens kantoorure op weeksdae en Saterdae.
Radio Tygerberg se bankbesonderhede is:
Banknaam: Radio Tygerberg
Bank: ABSA
Rekening nommer: 404 894 1668
Verwysing: SOS200
Projek SOS200 Persverklaring – Afrikaans
Projek SOS200 Persverklaring – Engels
Gedurende die week gesels ons met verskeie persone wat ook betrokke is by projekte om boere se nood te help verlig. Maandag skop ons in Oggendrooi af met Adri Williams van Khayelitsha Cookie Company wat betrokke was by Projek SOS100 in 2016 waarna Benescke in Brunch met Burre Burger gesels oor die projekte waarby hy betrokke is asook die storie agter Droogtehulp.
Gesprek met Burre Burger
Gesprek met Pierre Rossouw van Poet Productions oor die lied, Boer saam met Burre Burger .
Gesprek met Adri Williams
Gesprek met Chris van Beljon
Pieter Jakobs vertel oor die vorige Projek SOS100.
Wilhelm Steenkamp van Rietvlei in Williston gesels met Benescke