Pledge – waarom doen ons dit?
29 Oktober - 3 November, 2018
* Hierdie gebeurtenis het reeds plaasgevind

BESONDERHEDE
29 Oktober - 3 November, 2018
Volle Dag
Kontak Nommer:
0861 104 104
Kontak Persoon:
Adrie Jurgensen
Kontak Epos:
Reeds in die beginjare het die Radio Tygerberg 104fm-span besef dat sy luisteraars eienaarskap van die radiostasie neem en inkoop in die visie om die verlossingskrag van Jesus Christus te verkondig deur middel van radio-uitsending.
Dit het vinnig duidelik geword dat die luisteraars ’n behoefte het om ’n bydrae te lewer en so te sorg dat die klankgolwe van 104fm voortbestaan om hierdie visie uit te dra.
“Die Evangelie is gratis, maar om dit uit te dra kos geld,” sê Lorrein Katzke, gesoute omroeper en Plegde-anker. “Ons het besluit om aan luisteraars die geleentheid te bied om finansieel by te dra sodat ons kan voortgaan met ons opdrag om die Blye Boodskap te bring aan alle mense sover ons uitsending strek.”
Volgens die stasie se algemene bestuurder, Sedrick Taljaard, is Radio Tygerberg 104fm as gemeenskapsradiostasie voortdurend bewus van die behoeftes van die mense in die stasie se uitsaaigebied en stel God die stasie in staat om jaar na jaar uit te reik en verligting te bring aan armes, hoop te bring aan hopeloses en ’n stem te gee aan diegene wat deur die samelewing uitgewerp word. “In my sewe jaar by die stasie is die wonderwerke, guns en seën wat ek persoonlik hier al ervaar het, iets wat my stom laat – en ek hou van praat! Ek besef daagliks ons kan nooit méér as die Here gee nie, en hoe meer ons gee, hoe meer ontvang ons. Die fondse wat ons tydens ’n Pledge-week ontvang, stel ons onder meer in staat om die Almagtige God wat ons dien, te eer met gehalte programme, kreatiewe projekte in en vir die gemeenskap en om gebedsvriende in staat te stel om beskikbaar te wees en te help waar en wanneer nodig.”
Die fondsinsameling het aanvanklik klein begin, maar gou is besef dat daar onder luisteraars ’n groot afwagting is vir ons pledge-week. Daar word met groot opwinding uitgesien na ’n week van seën deur die bediening van die Woord op lug van vroeg tot laat, gebedsessies en veral ook die seën van die Here wat volg op vrymoedige gawes van blymoedige gewers.
Die pledge vind slegs twee maal per jaar plaas, in Mei en Oktober, en sorg vir groot opwinding by die stasie. Die normale daaglikse programme word opsy geskuif en in elk van die vier tydgleuwe is daar ’n prediker wat saam met die aanbieder luisteraars aanspoor om bydraes te maak soos hulle gelei voel. Beloftes geskied per sms, Whatsapp, telefonies of luisteraars wat die stasie besoek. Deur die loop van die dag word luisteraars gevoed met die Woord en gebedsversoeke word veral aangemoedig.
“Radio Tygerberg 104fm kan getuig van die seën wat rus op elkeen wat vrymoedig en blymoedig gee. Die talle getuienisse van luisteraars wat ons deurlopend ontvang, getuig daarvan,” sê Minda Groenewald, ontvangsdame by die stasie wat tydens pledge-week minstens drie na vier keer meer oproepe hanteer as gewoonlik.
“Ons weet ons is geseën om tot seën vir ander te wees. Solank ons die Godgegewe voorreg het om dit te kan doen, sal Radio Tygerberg 104fm God se roepstem gehoorsaam,” sluit Lorrein af. “Een van die mooiste verse in die Bybel moet Spreuke 19:17 wees: ‘Wie hom oor ’n arm mens ontferm, gee ’n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed’. Ek is so opgewonde oor die nuwe geleenthede wat die pledge vanjaar inhou en sal geen mens van hierdie spesiale seën wil ontneem nie.”
In 2018 is Radio Tygerberg 104fm geseën met twee uitsonderlike Pledge-veldtogte waar rekordbedrae deur luisteraars en besighede ingesamel is. Die Mei-tema was Geseën om te seën terwyl die Oktober pledge met die tema Genade op genade die stasie se 25 jaar in die bediening gevier het.
Indien jy ‘n bydrae wil maak tot die bedieningswerk en operasionele koste van Radio Tygerberg 104fm, kan jy elektroniese inbetaling maak by:
RADIO TYGERBERG
Bank: ABSA
Rekening: 4048941668
Takkode: 632005
Verwysing: PLEDGE
Debietorders kan ook gedoen word op ons blad.
Bly op hoogte van alle projekte waarby Radio Tygerberg 104fm betrokke is deur die stasie op sosiale media te volg.