RADIO TYGERBERG REIK UIT: JERIA SENDING

9 November - 9 November, 2018

* Hierdie gebeurtenis het alreeds plaasgevind

BESONDERHEDE

9 November - 9 November, 2018

10:00 vm - 12:00 nm

Reeds vanaf 2007 bederf die span van Radio Tygerberg 104fm die kleinspan wat deur die Jeria Sending bedien word met ‘n vroeë Kersfees. En vanjaar was geen uitsondering nie.

Met sy lekker Kersvader-lag het Manie Bester, verkoopskonsultant by Radio Tygerberg 104fm,  uit sy “wit-en-rooi” bakkie geklim – die takbokke het net te warm gekry onder die Afrika son – en die kleinspan met sy Hô Hô Hô begroet.

Tydens die jaarlikse Jeria Sending-uitreikprojek besoek dié gemeenskapsradiostasie elke jaar verskillende plaasskole met geskenke vir die feesseisoen.  Vanjaar is Laerskool Morningstar besoek tussen Malmesbury en Darling. Met 61 leerlinge op die skoolbanke, het Vader Kersfees sy hande vol gehad om elkeen te ontmoet. Die personeel van Radio Tygerberg 104fm het ook ‘n spesiale produksie aangebied as deel van hul bedieningsuitreik aan die plaaslike gemeenskap en tot groot vermaak van die kleinspan.

“Na amper 30 jaar het Jeria Sending-uitreik die nodige ervaring en kennis opgebou om elke kind se unieke behoeftes, ouderdom en omstandighede  in ag te neem tydens die beplanning van elkeen se geskenk” sê Riana Hanekom, finansiële bestuurder by die radiostasie.

In 1988 is die Jeria Sending geplant met die hulp van Radio Tygerberg 104fm se stigter, ds. Soon Zevenster, op die plaas Klipfontein. Daar was weeklikse bediening deur Ludwig en Reta Gerstner en in die laaste paar jaar het die Jeria Sending uitgebrei na ‘n volwaardige bediening en uitreik wat fokus op skolebediening en –berading asook leierskaps- en huweliksverryking seminare. Daar is ook onlangs begin met ‘n Nasorg Akademiese Leerondersteuningsprogram op die plaas. Alles het ten doel om Christus as fondament in elke huisgesin en persoon se lewe te vestig.

“Die visie van Jeria Sending-uitreik pas ons visie soos ‘n handskoen”, sê Radio Tygerberg se algemene bestuurder Sedrick Taljaard. “By Radio Tygerberg wil ons alle mense inspireer en impakteer met die verlossingskrag van Jesus Christus. Ons uitreike aan ons gemeenskappe staan aan die hart van ons bediening”, voeg hy by.

“En soos Kersvader se geskenke aan die kinders geld kos, kos dit ook geld om die Jeria Sending-uitreik daagliks aan die gang te hou. Veral oor die feesseisoen is daar altyd fondse nodig om die landelike gemeenskap te bedien”, sê Hanekom.

Enige bydrae is baie welkom en kan gedoen word by Radio Tygerberg; Absa Bank Tjekrekening; rekeningnommer: 4048941668; takkode: 632005; verwysing:  Jeria Uitreik.