Hello Darling! Kersfees kom vroeg vir die Jeria-sending

15 November - 15 November, 2019

* Hierdie gebeurtenis het reeds plaasgevind

BESONDERHEDE

15 November - 15 November, 2019

Volle Dag

Vir die kleinspan van Barney’s Angels en Klouter Kabouters het die vreugde van Kersfees bietjie meer as ‘n maand vroeg gekom. Maar wat is dan mooier as ‘n kleinding wat opgewonde die geskenkpapier van ‘n groot boks kan afruk net om ‘n cool speelding – “dis dan ‘n gun tannie!!!” en nog te kry.

Vanjaar het die span van Radio Tygerberg 104fm weer die nou al bekende pad na Darling aangedurf om kinderharte met die ware boodskap van Kersfees te vul – maar ‘n geskenk op sy tyd het darem nog nooit skade gedoen nie!

Loer bietjie na vader Sedrick-Kersfees – ook bekend as Serfie met sy konsertina – wat die onderwysers en kinders vermaak het. Dillion van die bekende It’s Amazing Trust het die twee skooltjies, wat saam as die Darling Community Outreach bekend staan, met die Blye Boodskap bedien waarna daar heerlik geëet, gekuier, gekekkel en gelag is!

Nie eers ‘n pap bangd kon die 104fm-spangees met die terugtog demp nie! En het natuurlik tot ‘n grappie gelei…

Hoeveel 104fm personeel neem dit om ‘n motor se band om te ruil?

Vyf (een neem die foto!)

Waarna die antwoord van die uitreikspan vinnig via WhatsApp gevolg het.

“Nee! Ons is eintlik 10!”

Die span van Radio Tygerberg doen alles met oorgawe, passie, in goeie gees en onder leiding van Serfie, vreeslose uitreik Algemene Bestuurder, Sedrick Taljaard.

Ons maak volgende jaar weer so!

__________

104FM se uitreik na Jeria-sending

Reeds vanaf 2007 bederf die span van Radio Tygerberg 104fm die kleinspan wat deur die Jeria Sending bedien word met ‘n vroeë Kersfees. En vanjaar is geen uitsondering nie.

Tydens die jaarlikse Jeria Sending-uitreikprojek besoek 104FM verskillende plaasskole met geskenke vir die feesseisoen. Die personeel van Radio Tygerberg 104fm bied ook ‘n spesiale produksie aan as deel van hul bedieningsuitreik aan die plaaslike gemeenskap gewoonlik tot groot vermaak van die kleinspan!

Enige bydrae is baie welkom en kan gedoen word by Radio Tygerberg; Absa Bank Tjekrekening; rekeningnommer: 4048941668; takkode: 632005; verwysing:  Jeria Uitreik.