Wanneer die droogte jou stilmaak raak appelkose blatjang (luister)

Augustus 8, 2019

Vrouwees op ‘n plaas in die droogte geteisterde Noord-Kaap is nie maklik nie en “vrouens word mekaar se klankborde want broodwinners gesels allermins oor die seer in hul harte”, skryf Elize Parker in hierdie roerende berig. Op Vrouedag vier ons vroue. Sterk vroue. Vroue wat planne en blatjang maak.

 

Joos Moelich

Keith Coetzee    

Drie jaar gelede het die diep gebrul van Boertjie, Boytjie en die Lady vroegoggend oor die Laeveldwildreservaat opgeklink toe die drie trokke van hoop vroegoggend ingery gekom het. Noodtrokke van die droogte-verligtingsorganisasie, Boere-in-Nood. En ek het volwasse mans en vrouens en kinders sien huil toe die voer vir hul diere met ‘n plofslag vanaf die trokke die rooi grond tref.

Kort daarna het ek wilde diere, soos rooi bokke en renosters, agter die bakkie wat voer afgooi, soos mak troeteldiere sien draf.

Toe ek tien dae gelede in die Hooglandkaroo teen sonsondergang op die plaas Da Ganna op die Brospanpad naby Williston agter op Joos en Magda Moelich se bakkie vol versigtig uitgetelde voer tussen drie skaaphonde sit, draf ‘n troppie skape net so mak nader toe hulle die bakkie hoor. Die 250-stuks is nou lankal op die kraal gesit. Die skaaphonde spring nie eers af om skaap te werk nie. Elke skaap ken mos nou die pad van die bakkie tot die voerkrippe uit sy swart dorperkop.

Ook hier in die omtes het Boytjie, Boertjie en die Lady se organiseerders reeds ‘n ruim tyd gelede ‘n draai in die Hantam gemaak. Skape en vee is reeds lankal op kraal gesit. Die gebied ken nou reeds vyf jaar van versengende, genadelose droogte.

Die swart droogte noem hulle dit hier. As jy oor die veld kyk, is die bossies wat nog staan, swartpers van kleur.  Jy skop dit sommer los. Daar is geen voedingswaarde meer daarin nie.

G’n mens hier het al so droogte geken nie. Een wat ‘n eens trotse gemeenskap nou al ‘n ruk laat bakhand staan vir hulself, hul gesinne en hul diere.

Sommiges blameer die SKA-radioteleskoopontwikkeling op Carnarvon en lê selfs die wetenskap agter die blaam uit op ‘n geloofbare wyse. Ander weet veel van klimaatsverandering en soek die skuld by aardverwarming. En dan is daar diegene wat so ontredderd voel dat blaam nie meer ‘n faktor is nie.

Steek jy jou hande in die skape se wol, voel jy gou die heupbene wat van ontbering en verhongering skerp uitstaan. Joos verduidelik dan ook hoe dit nou met die skaars voer werk: soms kan net die mae volgehou word met voer wat nie veel voedingswaarde het nie, maar wat darem die trop op hul bene hou. Die meer voedende voer word dan vir die dragtige ooie en die slagvee gevoer. Dalk vir die skaap wat wel op pad na die slagpale is.

Als sodat ‘n goeie prys gekry kan word. Lank nadat die stryd op die veld en in die voerkrale gestry is, is daar ook die stryd om die regte pryse te kry en die geld in die bankrekening te kry sodat nog voer gekoop kan word. Pryse het ook reeds so geval dat gelykbreek skaars moontlik is. Regeringshulp bestaan nie en daar is boonop kompetisie van Namibiese skaapboere.

Dit gaan lankal nie meer oor eie behoeftes nie, maar oor ‘n bedryf en gemeenskappe se oorlewing.

Ook hier op De Ganna is Joos se voertrop uitgedun tot ooie wat eersdaags moet lam en word die goeie voermengsels gehou sodat die ooie nie lammers verloor nie.

Hier is lyding onder mens en dier wat nie in geld of trane gemeet kan word nie. Bankrekeninge word leeg getrek om voer te koop en petrol om dit aan te ry. Koöperasiegeduld met skuld is nou ook reeds verstaanbaar min en sommige boere word reeds van bankdeure weggedraai en is aangewese op skenkings van veevoer wat dalk nie altyd so gepas is nie. Ondertussen moet mediese fonds bydraes gekanselleer word en waar daar polisse is, dit uitgekoop word. Plaaswerkers word afgelê en dorpe se besighede loop dood.

Joos wys die geskenkte pekanneute wat hy as proteiene by die voer inwerk. Vertel van ‘n vrag appelkose wat boervroue tot blatjang verwerk het en verkoop het om geld vir voer te kry. ‘n Droogteboer maak meer as een plan.

Hier sukkel mense ten regte om te praat. Ook die stilte oor die een veld verstom jou – totdat dit voertyd is en ‘n geblêr uit ‘n ander wêreld opklink. Nader aan Williston, maak ek ‘n draai op Keith Coetzee se plaas, Skipperskraal, waar die voerkrale in ‘n ry sit met ooie en lammers van verskillende ouderdomme en kategorieë daarin. So ver as die voertrokkie ry, klink die geblêr van kraal tot kraal op.  Veral ook van die ooie wat lam maar nie die lammers deurgetrek kan kry nie. Ek maak ‘n warm mandjie met my arms vir ‘n lam wat ‘n uur later sterf al het Keith inderhaas ‘n bottel voermelk gaan kry. Die hoop bly dat wat gered kan word, gered moet word.

Hier is daar geloof by die ongeloof van hoe goed ander kan wees wanneer dit by skenkings kom. Op die grootste geskenk word daar egter gewag met oë wat heeldag na die horisonne draai en ‘n ongemaklike stilte wat heers as die weersvoorspelling oor die televisie kom. Soos die palm van hul eelthande ken hierdie boere weerkaarte.

Hoe vergeet mens die uitdrukking op ‘n Karooboer se gesig wanneer jy sien hoe hy na die wolke op die aandhorison kyk – net om die volgende oggend bloot die ligte dou op die grond en weer ‘n helder hemelkoepel te sien?

Gemeenskappe staan saam en neem hande om te oorleef. Verdeeldheid kom tot ‘n einde wanneer sakke voer met buurmense gedeel moet word. Dit is dalk die laaste stukkie hoop wat jy kan aangee. Van laastes gepraat –  hier word ‘n laaste bietjie geld dalk gebruik om ammunisie te koop om verhongerde skape dood te skiet en dan dalk die geweer op jou self te draai soos dit wel al gebeur het.

Vrouens word mekaar se klankborde want broodwinners gesels allermins oor die seer in hul harte om nie te kan sorg soos daar altyd gesorg is nie. Boonop, veeboere is intens lief vir hul diere. Sommiges kry nie eers meer self goed geëet nie. Soos een dit stel: “Hoe kan ek eet as my diere nie kan eet nie?”

Waterare is nou opgedroog. Boorgate loop droog. Ook plase na aan die dorp se boorgatwater raak minder nou dat die watertafel laer is omdat daar vir die dorp vir water geboor is.

Dis Dag Zero vir die boere in die Hoogland-Karoo. En die oë draai na Bo, maar ook na die teerpad waar rolbosse in die leë velde teen die grensdrade aanwaai en waar ook ander trokke van hoop dalk eendag weer sal aankom.

– Hierdie lammetjie by Elize het die droogte nie oorleef nie.