Radio Tygerberg 104fm soek ‘n #Nuwestem

Augustus 27, 2021

 Radio Tygerberg is op soek na ‘n jong, aspirante nuwe omroeperstem en dit mag dalk net jy wees!

 Ons ken die uitdrukking ‘jongmense is die toekoms’, maar so oud soos wat hierdie sêding is, so waar is dit. Alhoewel die radio-industrie al ouer as ‘n eeu is, bly dit een van die belangrikste media-platforms in die wêreld. “Dit is daarom baie belangrik om nuwe stemme te identifiseer en te ontwikkel sodat nuwe energie, kreatiwiteit en idees konstant die radio landskap innoveer,” sê Rikus van Rooy, stasiebestuurder.

Vanjaar vier Radio Tygerberg sy 28ste bestaansjaar en ons gaan groot deur 15 aspirante jongmense tussen die ouderdom van 18-35 jaar die geleentheid te gee om ‘n werkswinkel met uitgesoekte media kenners en omroepers by te woon. Hulle gaan onder meer leer hoe die radio industrie werk, wat dit behels om ‘n omroeper te wees en ter selfde tyd ook ‘n paar uitdagings suksesvol moet voltooi waartydens hul oorspronklikheid, kreatiwiteit en insig getoets word.

Vanuit die 15 deelnemers, sal daar finaliste gekies word wat elkeen ‘n stemtoets sal aflê, verdere opleiding ontvang en dan die geleedheid kry om saam met een van ons bekwame omroepers uit te saai. Luisteraars het dan die geleendheid om vir hul gunsteling #NUWESTEM te stem. Luisteraars se stem sal deel vorm van die finale beoordeling waarna die wenner gekies word. Die wenner sal met R10 000 harde kontant wegstap!

So, het jy dalk ‘n radiostem? Of ken jy dalk iemand met ‘n radiostem wat tussen die ouderdom van 18-35 jaar oud is? Skryf dan in deur jouself op ‘n kreatiewe manier aan ons voor te stel op ‘n selfoonvideo en dit te WhatsApp met jou naam na 078 970 2399. Die sluitingsdatum vir #NUWESTEM-kompetisie is 3 September 2021. B’s & V’s geld.