Radio Tygerberg 104fm bou aan!

Mei 2, 2019

Agter met die wit hemp is Mike en Gerrie. Middel v.l.n.r. is Francois, Eunice, Elize, Surita en Herschelle en voor is Veronique.

Deur Adrie Jurgensen

 

Wanneer ‘n huis te klein raak vir ‘n gesin is dit tyd om uit te breek, aan te bou en ‘n paar meubelstukke rond te skuif! So is dit ook by Radio Tygerberg 104fm. Ons is besig om ons huis spreekwoordelik groter te maak, ‘n nuwe lagie verf te gee en om ‘n paar meubelstukke rond te skuif!

Luisteraars word nou vroeg-oggend met Elize Parker se stem op lug wakker as deel van #Oggendrooi. Elize, ‘n ervare joernalis met meer as 20 jaar se ervaring in drukmedia, radio en TV staan aan die hoof van ons Nuusafdeling. Elize is nie net ‘n gesoute joernalis en radiostem nie, sy is ook ‘n bekende skrywer van dagstukkies en liefdesverhale asook ‘n gewilde motiveringspreker by veral vroue-oggende.

Aan Elize se sy is die dinamiese Veronique Serfontein en sy neem vanaf 13:00 – 18:00 oor om vir jou die jongste nuus te bring. Veronique wat daagliks vanaf die Paarl pendel is geen vreemdeling as dit by radio kom nie, en werk reeds nege jaar by gemeenskapstasies in die Wes-Kaap. Haar tegniese vaardighede is ‘n reuse aanwins vir die span en sy en #HuisToe se Reinhard Kotze vul mekaar goed aan weeksdae voordat sy laatmiddag haar eie reis huis toe aanpak.

#Oggendrooi se borrelende Eunice Stoltz is ook geensins vir Radio Tygerberg 104fm verlore nie! Sy is bevorder tot Skakelbeampte. Met haar passie vir goeienuus-stories, haar vermoë om (met moeite!) Anton Brink altyd te laat wen tydens die Bybelvasvra, haar sin vir nuus en humor, haar deursettings- en organisasievermoëns en haar liefde vir Jesus was sy die logiese keuse vir dié dinamiese pos.

Die bedieningsafdeling is nou uitgebrei na ‘n voltydse pos en ons verwelkom Surita Cowley as hoof van berading. Surita sal ook ons gebedspan lei en is verantwoordelik vir ons Pledge wat eersdaags afskop. Surita is die skrywer van twee boeke wat oor bediening handel en het reeds verskeie werkswinkels oor die onderwerp aangebied.

Op Sondae is twee nuwe stemme op lug. Laerskool-juffrou Gerrie Smith leer gedurende die week die kleinspan by ‘n plaaslike laerskool en op ‘n Sondag is sy van 11:00 tot 13:00 programaanbieder op Radio Tygerberg 104fm. Mike Potgieter skuif skuins voor 17:00 agter die mikrofoon in en hou ons luisteraars geselskap tot 19:00.

Om te verseker dat alles agter die skerms en by ons buite-uitstendings glad verloop is ons tegniese span uitgebrei met die aanstelling van Herschelle Lewis en Francois Fourie. Beide is ook betrokke by RoepTV.com en dus geen vreemdelinge by die 104fm-familie nie!

Radio Tygerberg 104fm is opgewonde oor die veranderinge wat ons gemaak het om ons “huis” te vergroot en ons visie – om alle mense te inspireer en impakteer met die verlossingskrag van die evangelie van Jesus Christus – verder uit te bou.

Lees meer oor al ons omroepers en agter-die-skerm personeel op ons webblad onder WIE IS ONS.