Projek SOS200 gaan boere se nood verlig

Augustus 25, 2019

Projek #SOS200 het aan die einde van Augustus afgeskop en fondse ingesamel vir lewensnoodsaaklike veevoer vir boere in die Noord-Kaap. Dit het ook met ‘n uitreik na Williston, Carnarvon en Sutherland gepaard gegaan en hope gebed! Genade reën het intussen op Carnarvon en Sutherland uitgesak en ons bly in gebed vir Williston en die res van die Noord-Kaap. Hier is wat jou bydra beteken het.
Dankie vir elkeen se gehoorsaamheid. Bly bid. Bly steun die boere.
Droogte Hulp met Burre Burger NPC
Boere Droogtehulp SA NPC
Boere in Nood Groep
#SOS200
Adri Williams

https://www.facebook.com/Tygerberg104FM/videos/1289887201193642/

 

VAT HANDE MET PROJEK SOS200 EN HELP DROOGTE BOERE SE NOOD VERLIG

In Februarie 2016 het Radio Tygerberg die Projek SOS100 geloods om fondse in te samel vir die aankoop en lewering van broodnodige veevoer vir boere in die droogte geteisterde Noord-Kaap. Met die hulp van ons getroue luisteraars sowel as besighede se ruim skenkings kon 27 vragmotors met altesame 972-ton veevoer ’n paar maande se verligting bring vir 160 boere.

Dit is nou drie jaar later en steeds is die droogte nie gebreek nie. Inteendeel die droogte krisis het sedertdien ontaard in ’n humanitêre krisis met boere wat dit skaars kan bekostig om vir kos, mediese dienste en selfs kinders se skoolgeld te betaal, asook grootskaalse werkloosheid weens plaaswerker-afleggings.

Ná ons besoek aan Williston en omstreke tydens die gebedsbyeenkoms met Angus Buchan op Donderdag 25 Julie en ons persoonlike ervaring van die omvang van die droogte se impak, is dit sterk op ons harte gelê om 2016 se projek op te volg met Projek SOS200.

Projek SOS200 behels ‘n weeklange oproep van 26-30 Augustus op lug deur Radio Tygerberg aan sy luisteraars, asook besighede, om geldelike skenkings direk in die radio se bankrekening te doen. Dié geld gaan in samewerking met vennoot organisasies soos Boere in Nood aangewend word vir onder meer die aankoop, vervoer en effektiewe verspreiding van veevoer teen R200 per 50kg sak. Die geld gaan direk deur Radio Tygerberg aan die betrokke verskaffers betaal word.

Daar is dus die geleentheid vir ’n Jan Publiek wat sakke teen R200 per sak kan borg, tot besighede, kleinsake en korporatiewe ondernemings, wat heel vragte teen R160 000 kan borg.

Die aanvanklike mikpunt is om die bykans 400 behoeftige boere van hulp te wees in die Williston, Carnarvon, Prieska en Sutherland streke, waar die gesamentlike skaap kuddes gedaal het van 830 000 tot 195 000, en die hulp dan na gelang van die beskikbare fondse verder uit te brei na onder meer Springbok en die Boesmanland verder noord.

Benewens geldelike donasies, kan skenkings ook gedoen word in die vorm van kospakkies vir gesinne, skool benodigdhede vir leerlinge, ensomeer. Daar is ‘n totaal van nagenoeg 4 500 leerlinge in die eersgenoemde streke.

Vir diegene wat skenkings vir belasting doeleindes wil aftrek, kan Radio Tygerberg ’n Artikel 18A Sertifikaat uitreik.

Radio Tygerberg se bankbesonderhede is:

Banknaam: Radio Tygerberg

Bank: ABSA

Rekening nommer: 404 894 1668

Verwysing: SOS200

Vir navrae:

Sedrick Taljaard

0861 104 104

082 827 6074

sedrick@104fm.co.za