Lid van 104FM NetWERK: Personeel reik uit: Heartlands Baby Sanctuary

Desember 5, 2018

 

HEARTLANDS BABY SANCTUARY IS ‘N LID VAN DIE 104FM NETWERK

Heartlands kruip diep in 104fm se harte in

Radio Tygerberg 104fm, die grootste Afrikaanse gemeenskapstasie in die Wes-Kaap (volgens die jongste BRC-syfers) het onlangs hul Kind100-fondsinsamelingsprojek van stapel gestuur. Fondse is ingesamel vir kinderhuise en plekke van veiligheid met die fokus op kinders wat gedurende die vakansie geen ander heenkome het nie. Personeel van die stasie besoek hierdie week verskeie organisasies om geskenkbewyse en produkte uit te deel asook om bewustheid te skep vir die reuse nood wat nie-winsgewende organisasies in hierdie tyd beleef. Heartlands Baby Sanctuary is ‘n geregistreerde Kind- en Jeugsorgsentrum asook pediatriese hospice wat 24 uur inblysorg vir wees- en hoë risiko in die Strand.
Radio Tygerberg 104fm het babaprodukte insluitende doeke, melk en sneesdoekies geskenk asook ‘n koopbewys. Khayelitsha Cookies (KCCO) het ook 10kg se tandekrybeskuitjies geskenk. Volgens die Hoof uitvoerende beamte van Heartlands Baby Sanctuary, Monica Buitendag, is skenkings van onskatbare waarde. “Ons werk met verskeie hoogs opgeleide professionele persone by Heartlands. Daar is ook sowat 80 vrywilligers wat help om veral ons baba’s vas te hou en te verseker dat die kleintjies weet hulle is geliefd. Alles kos egter geld. Petrol, elektrisiteit en water, mediese voorraad en natuurlik doeke en melk! Hierdie skenkings verseker dat ons kan voortgaan om hierdie noodsaakliks dienste te kan lewer”.
Heartlands Baby Sanctuary spog met ‘n koffiewinkel en tweedehandse winkel en bied ook funksies aan om hul fondse aan te vul. Besoek gerus hierdie onverwagse juweel indien jy weer in die Helderberg-omgewing is. Enige speelgoed, klere en ander items wat in ‘n goeie toestand is kan ook aan Heartlands Baby Sanctuary geskenk word.

Personeel van Radio Tygerberg 104fm oorhandig produkte en ‘n geskenkbewys aan Heartlands. Voor LNR Eunick Matroos, Natasha Louw, Minda Groenewald en Reinhard Kotze. Agter LNR: Rikus van Rooy, Monica Buitendag (Heartlands), Johan Jacobs (KCCO), Paulina Juettner (Duitse vrywilliger) en Adrie Jurgensen.