Paasgebede Maandag 15 April 2019

April 15, 2019

 

 

 

 

 

 

 

Deur Elize Parker

Skoene van vrede

Hier in Lydenstyd, Heer, het ek deur ’n ougoed-winkel geslenter
en op ’n enemmel waskom afgekom.
Toe wonder ek hoe het die dissipels gevoel
toe U hul voete gewas het?
Dalk skuldig omdat hulle dit nie verdien het nie?
Ek sien hoe u sterk hande hul vuil voete vasvat,
hande wat net ’n dag hierna spykerwonde sou dra.
Ek hoor die water uit ’n beker in die kom neerplons.
Koel, helder water wat genees, verfris en voed.
Reeds toe, Heer, het U geweet U sou verraai en alleen wees.
U was weerloos, maar het nie na mag gegryp nie.
U is anders as die magtiges.
U dien dié wat dit nie verdien nie.
Daarom, Heer, plaas ek nou my voete in u kommetjie
en my skuldige hart in u hande.
Ek beken dat ek nie nederig genoeg is nie.
Gee my ’n voete-was-gesindheid teenoor die mense om my.
Leer my die geheim van diens aan my naaste.

Amen.