Paasgebede 21 April 2019
April 21, 2019
Deur Elize Parker
Paassondaggebed: Steenwieg
Here, ek stel my Josef van Arimatea se doelgerigtheid voor
toe hy, ten spyte van sy diep verdriet oor u kruislyding,
in die uur van skadu’s U tot diens wou wees.
Hy het hom onverwyld na Pilatus en ’n linneverkoper gehaas,
sodat voor die donkerte neersak, die Sabbatstilte toevou,
hy U veilig in ’n steengraf in grafklere tot ruste kon lê.
Hoe verheug moes hy op Opstandingsondag gewees het!
Heer, ek bid dat my hart ook in enige uur vol skadu’s
vir u koninkryk tot diens sal wees.
Daar kom vernuwing wanneer ons U dien.
Ek bid, Heer, vir die Heilige Gees om my te lei
uit enige hartseer
sodat ek kan opstaan en vir u koninkryk kan intree.
Dat ook my klipgraf ’n steenwieg kan word
en ek, nuut gebore, my grafklere eenkant kan plaas.
Help my, Heer, om soos hy konings namens ander te smeek
en verbande om seerplekke te draai.
Amen.