Paasgebede 16 April 2019
April 16, 2019
Deur Elize Parker
Die bo-kamer
Here, ek stap in my gedagtes op met die trappe na ’n bo-kamer
waar U brood met die dissipels gebreek het.
O, die verwagting in hul harte om Paasfees saam met U te vier.
Maar dan, die hartseer nuus dat U hulle binnekort sou verlaat.
Ek sien hul verwese gesigte, maar ook hul Nagmaalshoop, Heer!
Met u uitnodiging in die bokamer
nooi U ons ook om een met U te word.
Ek dank U, Jesus, dat ek nie langer alleen hoef te wees nie.
Om in vennootskap met U te tree, bring nuwe moontlikhede.
Met die krummelbrood in my hand weet ek
waardeur ek ook al moet gaan, U is in my.
Sonder u inwoning is ek niks.
Sonder u influistering is ek net ’n bondel verwarde emosies.
U stil saamwees maak my stuk vir stuk heel.
Leer my, Heer, om die Nagmaalsgenade
van die bokamer te weerkaats.
Die enigste manier om te lewe is met U in my lewe.
Amen.