Oupa Fredie BLOM op 115! (LUISTER)
April 29, 2019
Jeanette en Fredie Blom en hul huis is Delft.
Resep vir ‘n goeie lang en gelukkige lewe: Eer jou vader en jou moeder en respekteer mekaar, ouer mense en jou medemens
Deur Eunice Stoltz
Naby die Groot Winterberge in die Oos-Kaap is Oupa Fredie Blom op 8 Mei 1904 in die landelike dorpie, Adelaide, gebore. Sy heimat moes hy verlaat om ‘n bestaan te maak sowat 910 kilometer wes van Adelaide, op ‘n plaas naby Clanwilliam in die Wes-Kaap. Op die plaas, Doringbos, vertel Oupa Blom, het hy mis verwerk vir kompos. Na jare se werk op Doringbos het die belofte van baie geld Oupa Blom oorreed om Kaapstad toe te kom. Maar, sê Oupa Blom: “Toe gaan daar niks aan nie.”
In die Kaap was plaaswerk weer die enigste uitweg. Dit was juis op ‘n hoenderplaas, waar Oupa Blom jare later, op die ouderdom van 68-jaar, in 1972 op 22 Desember met Ouma Jeanette Blom (86), getrou het. Vir Ouma Blom was dit haar tweede huwelik – en vier sy en Oupa Blom vanjaar hul 47ste huweliksherdenking.
Die bou van die Nyanga treinstasie het tot gevolg gehad dat Oupa en Ouma Blom na Ottery verplaas moes word. Ouma Blom vertel hulle het in ‘n ou plaashuis in Lansdowneweg gewoon toe hulle in kennis gestel is dat die pad groter gemaak word, en dat ‘n treinstasie wat Nyanga, Khayelitsha en Gugulethu met mekaar verbind, gebou gaan word. Nadat hulle na Ottery verhuis het, kon hulle by die Voorbrug-skema in Delft aansoek doen vir ‘n nuwe huis. Vandag, woon Oupa en Ouma Blom steeds in dié huis in Voorbrug, waarvoor hulle aansoek gedoen het. Dit is in 1990 amptelik as hulle eiendom geregistreer.
Wanneer jy vir Oupa Blom vra hoe hy so hoë ouderdom bereik het, sê hy sonder huiwering: “Gehoorsaamheid. Die Woord van God beskryf dit, eer jou Vader en jou Moeder.” In ooreenstemming is dit Ouma Blom wat op haar beurt byvoeg dat gehoorsaamheid en respek teenoor ander, ‘vat vir jou ‘n langpad’. Sy vertel dat respek, ‘n ope hand en die daarwees vir iemand in nood jou ver kan neem.
Buiten vir gehooruitdagings is niks ‘af’ by Oupa Blom nie. Met min tande oor op die ouderdom van ampertjies 115-jaar glo hy tot vandag nog dat daar altyd ‘n stukkie vleis in mens se bord moet wees. Indien daar nie vleis is nie, “kry jy maar brood en melk, en eet maar só.”
Oupa Blom is gelukkig en woon tans saam met sy vrou, en haar ses kinders – twee van haar eie, twee aanneemkinders en twee grootmaakkinders (die vir wie jy sorg maar nie amptelik papiere voor het nie).
Op 115-jaar blom Oupa Fredie steeds.
Met ‘n vrou, kinders en talle honde en katte is Oupa Fredie Blom ‘n ryk man. Want op 115-jaar kan hy steeds vashou aan die Woord van God en kan hy erken dat gehoorsaamheid aan die die Here, sy lewensjare geseën het.
Op 16 Mei vanjaar beplan die gemeenskap ‘n groot partytjie-ontbyt vir Oupa Fredie om die mylpaal te vier. Dit sal in die Delft-burgersentrum plaasvind om 10:00. Enigiemand wat belangstel om betrokke te raak of ‘n skenking te maak kan Gaironesa Michaels op 082 763 7630 bel.
Foto’s van 2018 (ANA Pictures):