Op ‘n drafstap met Karien

Junie 23, 2019

 

 

Deur Adrie Jurgensen

Besig besig besig! Dis Karien Basson in ‘n neutedop.

Net om haar CV vinnig deur te lees, laat ‘n mens voel of jy ‘n ultra-marathon gehardloop het! En ja, dit het die blonde 1.77 m lange vrou van die Strand al drie keer gedoen! EN ‘n Comrades marathon aangedurf, al moes sy op 60 km uittree. Deesdae trap sy fiets om ‘n 36-uur-dag in 24 uur in te pas en beplan sy reeds die volgende Comrades!

Kyk, Karien is nie ‘n vrou vir stilsit nie en is altyd op ‘n drafstap. Tog kry sy dit reg om jou te laat voel asof sy die wêreld se tyd aan jou WIL spandeer wanneer sy met jou gesels. Sy is regtig net ‘n nice mens! En opreg. En dit is ‘n skaars kombinasie in vandag se wêreld, veral as jy in media werk. Maar Karien het die balans gevind en leef haar hart vir bediening onder vroue 110% uit. Elke dag.

Karien, wat onlangs haar “thirty something” verjaardag gevier het, woon reeds die laaste 12 jaar in die mooie Strand. Dis dan ook waar sy ‘n geliefde stem op Radio Kansel, daarna Radio Helderberg 93.6s en uiteindelik by Radio Tygerberg 104fm geword het. Dis ook by 104fm waar sy beloon is vir haar harde werk deur in 2014 met die MTN-toekenning vir beste middag-spitstydprogram in die land! Maar dit was nie al nie – sy is ook benoem vir:

  • Beste middag-spitstydaanbieder; en
  • Beste Sportprogram saam met Arnold Geerdts en Gareth Burley.

Daarby is sy ook aangewys as die wenner van die MTN Bright Star-toekenning.

Dis “all in a days work” vir Karien, wat tans reuse-skoene volstaan as skakelbestuurder by RoepTV en aanbieder, en medevervaardiger van #RoepResensie – ‘n weeklikse opsomming van hoogtepunte op RoepTV. Sy is ook die eienaar van die funksie- en geleentheidsmaatskappy First Media & Events, redakteur van die maand vir Finesse se Vroue wat Glo, een van drie vroue wat die aanlynrubriek #4Minutes#CoffeeAndConvos aanbied en vervaardig, ‘n gesertifiseerde NLP-lewensafrigter, gereelde seremoniemeester en spreker by vrouedae, én die stem agter verskeie radio-advertensies. Dis ‘n hele mondvol, maar steeds nie die einde nie!

Karien het al vier boeke in samewerking met CUM Boeke en Carpe Diem Uitgewers uitgegee, waaronder die motiverende sportboek ‘n Boodskap van Hoop / A Message of Hope wat binne drie maande ‘n topverkoper met meer as 10 000 verkope was. Sy is ook ‘n ou hand as dit kom by dagstukkies skryf en in Wanneer God met jou praat deel sy haar hart en bewondering vir gewone mense met buitengewone durf!

Karien skryf hierdie week oor ‘n baie gepaste tema: #Lewe. Dit doen sy elke dag met ‘n breë glimlag, hawermout in die oggend, deeglike beplanning, ‘n heerlike humorsin, opregte vriendskappe, liefde vir diere (veral drie spesiale katte!) en ‘n droom van ‘n bootvakansie na ‘n eiland met lekker mense!

Lees saam en word geïnspireer deur iemand wat jou kan laat goed voel oor wie jy is net soos God jou geskape het.