Naas se #droom van Restoration vir die Kaap
Desember 8, 2019
‘n Nuwe stem op die 104FM-klankgolwe droom van herstel en oorgawe van die Kaap, is aan die brand vir Jesus en doen dit alles musiekinstrument onder die arm! Ontmoet pastoor Naas van Tonder.
Naas van Tonder, of te wel Ignatius, is ‘n passievolle en vurige man vir die Here. Ignatius beteken vuur so jy kan niks minder verwag nie. Gebore en grootgeword in Pretoria, is dit hier waar Naas ook regte studeer het. Na sy bekering in 1994 het hy besluit om Teologie aan te pak. Die groot rede waarom Naas in die bediening ingegaan het is dat hy besef het hoe groot die oes is en hoe min die arbeiders is. Ook het hy besef hoe belangrik siele vir God is. Naas het weer uit voltydse bediening beweeg en werk nou vir ‘n maatskappy wat spesialiseer in ontwerp en projekbestuur maar is ook die pastoor van sy eie bediening bekend as “Restoration”.
Die Here het vir hom ‘n visie gegee van ‘n groot breekwatermuur wat skepe beskerm van die see terwyl hulle gerestoreer word en hy het daarna presies geweet wat sy skeppingsdoel is! Hierdie bediening se fokuspunt is om mense wat iewers in hul lewe seergekry het en waar die vyand kom steel het, weer heel te maak deur hulle te herinner aan Jesus se liefde en plan vir hul lewe. ‘n Ander tak van hierdie bediening is kampe wat elke paar maande gehou word met die naam “Camp Restoration”.
Naas is getroud met ‘n pragtige vrou en helper in sy bediening, Helene, en het vier kinders en vier kleinkinders. Hy geniet kamp en ry graag fiets. Hy is talentvol en speel ses instrumente wat klavier, dromme, kitaar, orrel, trompet en die trekklavier insluit.
Naas se droom is dat nie net die hele Wes-Kaap nie maar ook die hele Suid-Afrika tot inkeer sal kom en na God sal draai. Naas is hierdie week ons skrywer van Dagstukkies met Naas met die tema #Droom.