’n Vroeë Kersgeskenk

November 13, 2018

Jamie-Lee by haar twee wonderwerkies.

 

Vir Jamie-Lee Pillay is klank so deel van haar daaglikse lewe soos asemhaal vir jou en my. Sy is reeds die afgelope 14 jaar die klankingenieur by Radio Tygerberg 104fm. Jamie-Lee is verantwoordelik vir die maak van ons in-huis advertensies, sy laai al die potgooie en moet daagliks verskeie programme en klankopnames radiogereed maak.

Jamie-Lee en haar man het verlede jaar Oktober die trotse ouers van ‘n seuntjie, Michael, geword. Hulle is ook geseën met ’n geselserige dogtertjie, Madison (6).

Michael se lewe het in die intensiewe sorgeenheid begin. Alles van sy hartjie tot sy asemhaling was ‘n uitdaging vanaf geboorte. Hy het erge infeksie gehad en moes twee verskillende tipes antibiotika gebruik. Verder het toetse getoon dat sy gehoor glad nie op standaard was nie. Die hospitaal het voorgestel dat hul hom huis toe neem en ‘n normale roetine volg en sy vordering fyn dophou.

“As klankingenieur was dit vir my ‘n bitter pil om te sluk. Hoe ironies. Dat klank die een ding was wat in my kosbare seuntjie se lewe ontbreek het”, sê Jamie-Lee. Sy en haar man het egter bly hoop dat dinge sou verbeter wanneer ons uiteindelik weer by die huis was en hy met sy sussie kon speel.

Toetse by die Oorinstituut het toe te ergste bevestig – Michael is doof in beide ore. ’n Kogliêre inplanting is sy enigste hoop om ooit te hoor en te leer praat.

Na heelwat verdere toetse het Michael ‘n gehooraparaat gekry. Dit sou hom steeds nie in staat stel om te hoor nie, maar help om die oor te stimuleer om die deel van die brein, wat vir klankherkenning verantwoordelik was, aktief te hou. Michael hou egter niks van hierdie vreemde dinge in sy ore nie en hy probeer om dit uittrek elke kans wat hy kry!

Michael se enigste hoop om ooit te kan hoor, is die kogliêre inplanting. Die afgelope jaar het die Pillay-gesin fondse ingesamel en het op 13 Desember ‘n afspraak vir hom gekry vir die operasie. Groot was ons verbasing toe ‘n dame bereid was om haar operasiedatum vir Michael op te gee!

“Sy operasie is glad nie belangriker as hare nie maar daar is ‘n groot dringendheid om hom so gou moontlik te help sodat hy kan leer praat”, sê ’n duidelik opgewonde Mamma oor hierdie onverwagse vroeë Kersgeskenk.

Op 22 November gaan Michael die kogliêre inplanting kry en reeds op 6 Desember word sy gehoorapparaat aangeskakel. Daar kan dan vasgestel word hoeveel hy wel kan hoor en of hy sal kan leer praat.

Die gesin werk reeds geruime tyd met die Carel du Toit-sentrum in Parow met hul leuse: waar dowe kinders leer praat. Michael sien weekliks ‘n spraakterapeut ter voorbereiding van die kogliêre inplanting wat nou binnekort gedoen kan word.

Jamie-Lee is diep gelowig en pak elke dag met vreugde aan. “Hoe dan anders,” lag sy. “Ons dien ‘n God van wonderwerke en beide ons twee kinders is ‘n bewys daarvan, want die Here maak nie foute nie”.

“Waar my lewe voor Michael grootliks deur klank oorheers is, waardeer ek deesdae die stilte met die wete dat niks vir die Here onmoontlik is nie”, sê sy.

JAMIE-LEE PILLAY werk as klankingenieur by Radio Tygerberg 104fm in Kaapstad en is getroud met Marcellino. Sy is die trotse ma van Madison (6) en Michael (1).