Mitchell’s Plein blom in beton vir generasies wat kom

Oktober 7, 2019

Verlede jaar het evangelis Angus Buchan ‘n It’s Time-geleentheid in Mitchell’s Plein gereël in samewerking met Radio Tygerberg 104fm  asook die ander Christenstasies, CCFM, Radio Kansel en Radio Disa in die Kaap. Die doel: om vir reën te bid om die damvlakke in die Kaap – wat op daardie stadium rampspoedig laag was – te verhoog. Meer as 150 000 mense het die geleentheid in die Swartklip Sportterein, Mitchell’s Plein bygewoon. Tot groot verbasing van die inwoners en veiligheidsmagte was daar geen insidente op die dag nie en het verskeie bendelede hul harte vir die Here gegee.

Oom Angus het na Mitchell’s Plein as die “Flower of Cape Town” begin verwys en nou is daar ‘n gedenkmuur opgerig om almal te herinner aan die wonderwerke wat op die dag in Mitchell’s Plein plaasgevind het. En daar was baie. Benewens geen geweld en die siele wat op die dag vir die Here gewen is, was dit ‘n eerste vir verskeie kerke, pastore, Christenradiostasies en ander media om saam te werk, die rekordtyd waarin die geleentheid gereël is met net die regte mense in poste waar dringende besluitneming vereis is, die ongelooflike koste verbonde aan so ‘n geleentheid wat sonder enige formele fondsinsamelings ge-in is en die genade reën wat uitgesak het toe Oom Angus op die verhoog klim, is maar net ‘n paar van die onverklaarbare wonderwerke wat beleef is. Die positiewe dekking wat die geleentheid in die media geniet het, kan ook nie misgekyk word nie. Elke deelnemer aan die geleentheid was uitgesoek vir ‘n tyd soos dit. Ook hier moet die Hand van God nie misgekyk word nie: of dit ‘n Bloemfonteinse boer was of ‘n instaan verslaggewer, elkeen was perfek vir sy rol. En die reën het gekom, en die damme is vol.

Die gedenkmuur is om te herinner aan God se teenwoordigheid, Sy genade, Sy grootheid. Om vir ons kinders se kinders ‘n teken van hoop te bly en vir die mense van Mitchell’s Plein te herinner dat hulle ‘n deurbraak beleef het en moet bly pleit vir meer.

Elize Parker het met pastoor Theo Roman gesels na die opening van die Flower of Cape Town Gedenkmuur. Hy was een van die sleutelrolspelers tydens die projek. Luister vir meer:

Die Flower of Cape Town Gedenkmuur staan op ‘n grasheuwel in Westridge Gardens in Mitchell’s Plein en is duidelik sigbaar vanaf Morgenster Straat, een van die hoofstrate in Mitchell’s Plein.
Dit het nege weke geneem om die gedenkmuur te voltooi en onder meer is 2 ton staal gebruik om die beton konstruksie te verstewig en in stand te hou vir toekomstige generasies.
Luister gerus na die onderhoud wat Sedrick Taljaard met die ontwerper en bouer van die Flower of Cape Town Gedenkmuur  Pastoor Isaac Humdulay oor die simboliek agter die verskillende elemente van die muur gevoer het. Sy assistent op die projek was Gerard Riffel.

 

Die proklamasie wat onder leiding van Pastoor Theo Roman hardop voorgelees en opgesê is deur almal teenwoordig.

Van links staan Petrie Smit (Graham Power Construction); Ashley Potts (Cape Town Drug Counselling Centre); pastoor Barry Isaacs, pastoor Owen Hendricks; pastoor Isaac Hamdulay (onterwerper & bouer); pastoor Theo Roman; biskop Mark Bloemstein en Hardus Zevenster (Radio Tygerberg 104fm).