Kleurvolle ouma inspireer, bedien en lééf passievol
Februarie 1, 2019
In Februarie gaan Ziva Spangenberg Radio Tygerberg 104fm se Blog, Dagstukkies met Ziva hanteer. Maandeliks sal personeel die geleentheid kry om die bediening met ons luisteraars en lesers te deel.
Ziva, wat LIG beteken, is nie ‘n vreemdeling as dit by skryf kom nie het het onder meer haar eie tydskrif en gemeenskapskoerant besit en bestuur. Sy skryf gereeld vir Christentydskrifte en ander publikasies.
Ziva is die laaste drie jaar die bedieningshoof by Radio Tygerberg 104fm maar is reeds meer as ‘n dekade by die stasie se bediening, as vrywilliger betrokke. “Ek het reuse respek vir die rol wat vrywilligers en nie-winsgewende organisasies speel. Hul waarde en impak kan jare later nog gevoel word”. Min het sy geweet dat haar vrywilligerswerk by die stasie, tot ‘n voltydse bedieningspos sou lei. “Wat ‘n voorreg om daagliks mense in nood te kon bystaan – sonder ‘n afspraak en heeltemal gratis! Soms voel dit of die lewe jou skop as jy lê, en die gratis bedieningsdiens by die stasie kon vir honderde mense weer ‘n mate van hoop gee en as rigtingwyser op hul pad dien”, sê sy.
Ziva, ‘n geordende pastoor met ‘n vroue bedieningen is veral bekend vir haar jaarlikse Rut-konferensie en ander werkswinkels. “Vanjaar is die sewende keer wat dit aangebied sal word. Deur Rut het die Here reeds ‘n lang pad met my gestap. Tydens die jaarlikse konferensie – wat vanjaar op 1 Junie by die NG Kerk in Welgelegen plaasvind, het ek geleer dat Jesus jou fokus moet bly te midde van uitdagings en jou verlede”
Die laaste ses jaar was Ziva ook ‘n deeltydse student en het in 2018 haar Meestersgraad in Voedings- en gesondheidsberading suksesvol voltooi. Sy het ‘n passie vir kleur, geur en kosmaak asook haar vroue bediening, OneLife fokus juis op fiksheid en gewigsverlies met ‘n holistiese aanslag op liggaam, gees en siel – alles in ‘n eenheid. OneLife, haar bediening se direkte ontstaan kom as gevolg van haar jarelange stryd teen emosionele eetgewoontes. Haar eie getuienis oor haar gewigsverlies van 20kg oor die laaste 12 maande deel sy graag om so ook hoop te bring vir ander.
In Maart word haar tweede boek uitgegee, “Nothing Else Matters” wat spesifiek gaan fokus om ander mense te bedien om ‘n gesonde leefstyl te begin en te kan volhard. ‘n Ongelooflike reis van restorasie na siel, gees en liggaam.
Ziva is getroud met Johan, ‘n elektriese ingenieurstegnikus en het vier kinders en twee kleinkinders. Sy is ‘n natuurmens en hulle is gereeld Saterdae en vakansies op die gholfbaan! Sy skryf graag en het ‘n hart vir mentorskap en help graag mense om hul ware passie en roeping te ontdek en uit te leef.
Sy is nie ‘n stilsit-ouma nie en het twee jaar gelede ook ‘n geregistreerde en geakkrediteerde Bybel Kollege, Vision2Victory gestig waarvan sy nou die Prinsipaal is. Volgens Jean Muller, ontvangsdame by Radio Tygerberg 104fm, student by Vision2Victory en gewaardeerde kollega, is Ziva se intimiteit met die Here die dryfkrag agter alles wat sy doen. “Sy is ‘n passievolle mens en ‘n wonderlike mentor wat ander die belewenisse wat die Here met haar deel, gun”.
Geniet die Februarie-reis met Ziva en Radio Tygerberg 104fm. Mag die brokkies vir jou en jou geliefdes in hierdie maand ‘n seën wees. Deel dit gerus met ander en nooi jou geliefdes uit om daagliks die kort dagstukkies te lees. Elke Sondag-aand om 20:15 bespreek Pastoor Dennis Francis die opsomming van die week op Radio Tygerberg 104fm.