Henry Pike – ‘n bron van inspirasie!
April 21, 2019
Deur Helané Theunissen
In 2014 word Henry Pike aangewys as die eerste wenner van Radio Tygerberg 104fm se Gospel Talent Search-kompetisie – ‘n sangkompetisie waarvoor sy vrou, Justine hom voor ingeskryf het. In die September – Oktober-uitgawe van die tydskrif Juig! verskyn daar ‘n dubbelblad berig oor Henry en sy reis van mynwerker in Fochville tot singende pastoor by die De Bron-gemeente in Willowbridge saam met skoonpa Gary Kieswetter. In die berig is daar egter ‘n profesie wat opval. Oor ‘n tydperk van vyf jaar het Henry vier keer die profesie ontvang dat hy voor ‘n groot skare mense sou optree. ‘n Profeet het in 2014 vir hom gesê:
“My friend I see a platform opening for you. God is giving this platform to you. Are you ready for this?”
Intussen het Henry die ongelooflike voorreg gehad om verskeie vol sale te bedien onder meer by Gospel Skouspel en ook om die lofsang te lei by van die grootste gebedsbyeenkomste in Suid-Afrika: It’s Time Bloemfontein, Mitchells Plain asook Pretoria.
Henry is nie net ‘n pastoor nie, sy CV reflekteer aanbiddingsleier, sanger, radio omroeper, man van ‘n wonderlike vrou en pa van drie pragtige dogtertjies. Henry was ‘n student by die Hatfield Christelike Kerk Bybelskool waar hy dan ook sy vrou, Justine, ontmoet het en in 2008 getrou het. Saam het hulle eers vir drie jaar by ‘n kerk in Kuruman bedien en in 2011 was hulle gevra om saam met sy skoonouers, Gary en Rhona Kieswetter, ‘n kerk te begin as mede-leiers. Dit is toe wat Die Bron gemeente gebore is.
Henry het al ‘n paar albums uitgereik en was ook ‘n gereelde kunstenaar by die Gospel Skouspel konserte. Dit was dus geen verrassing toe sy aanbiddingspan die geleentheid gekry het om die lofprys en aanbidding te lei by die historiese It’s Time geleentheid in Bloemfontein. Hy is ook weekliks op die lug by Radio Tygerberg 104fm met sy program Kerk Sonder Mure wat elke Dinsdag aand om 21:00 uitgesaai word. Henry se passie en roeping is om die liggaam van Christus deur God se Woord asook musiek te bedien, te motiveer en te inspireer om in die krag van die Heilige Gees te beweeg.
Henry skryf hierdie week ons rubriek Dagstukkies met… waar hy na die tema van #Waaksaamheid kyk Hy kan gevolg word op sosiale media by FaceBook, Twitter en Instagram.