Help! Ek is allergies vir alles!
September 4, 2019
Dit is lente. Vir talle mense is hierdie seisoen een groot kopseer. Letterlik. Wanneer die winter sy vaal baadjie afskud en die lentebloeisels begin om kaal takke in ligte groen en wit te tooi, begin ‘n groot gedeelte van mense sneesdoekies, neusspuite, antihistamien uitruk.
As jy “allergies is vir alles” sal jy die gevoel ken want alles jeuk. Van jou neus, jou ore, jou keel, jou kopvel en selfs jou nek tot oë wat traan en ‘n keel wat toetrek of ‘n lastige kuggie of snuifneus wat jou wange in enige ander seisoen rooi van skaamte sou laat.
Volgens die Allergy Foundation of South Africa sal een derde van Suid-Afrikaners op een stadium in hul lewe met allergieë worstel. Hiervan is 40% kinders. Dit sluit alles van hooikoors, ekseem, asma en kosallergieë in.
Lorrein Katzke het in haar program Gesondheidsake die volgende uitgelig:
Die belangrikste en algemeenste allergene (dinge wat hooikoors veroorsaak) sluit in:
- Grassade van veral hawer, lenteblomme, lang swenkgras, kamgras, en weigras
- Stuifmeel van bome veral die eik, die olyf, bloekom, akasia, vlierboom, esdoring, elsboom, berkehout, okkerneuthout, haselneut, seder, sipres, essenhout, populier, wilg, en elm
- Onkruid-stuifmeel veral van kruiskruid, boksuring, brandnetel, muurkruid, meelpiesang en wildesuring
- Swamspore
- Huismyt
- Sigaretrook
- Medisyne-allergieë veral teen penisillien en amoksilien antibiotika
- Bysteek
- Kakkerlakke
- Parasiete: spoelwurms (veral in Wes-Kaap) en bilharzia (veral in die noorde van Suid-Afrika)
- Kossoorte: 90 persent van alle voedselallergieë word deur agt kossoorte veroorsaak – grondboontjies, melk, eiers, koring, soja, neute van bome, vis en skulpvis
- Sekere diere: Kat- en hondevel, -urine en speeksel. Ook dié van rotte, muise, voëls, eende, ganse, koeie, hase, hamsters en marmotte
- Antihistamienmddels kan allergieë en hooikoors in bedwang bring en asma moet te alle tye uiters goed met asmamiddels beheer en nooit onderskat word nie. Voorkoming is egter die beste behandeling.
As jy dus nie ‘n allergielyer is nie, wees genadig met die wat nies, hoes en proes wanneer hulle met ‘n bos blomme bederf word!
GESONDHEIDSFOKUS WORD ELKE DINSDAG OM 14:00 DEUR LORREIN KATZKE IN #KUIERTYD AANGEBIED EN MET TROTS GEBORG DEUR IMMUNADUE.