Rescue Among Many se Carol ‘n juweel
Augustus 14, 2019
Vrywilligers Amanda Engelbrecht en Benita de Gouveia by RAM se stigter, Carol Bruton en een van RAM se borge, Tino van der Merwe van Imagine Cruising by Radio Tygerberg 104fm se kantore tydens die #KleinSaterdag-uitreik.
Deur Eunice Stoltz
Wat begin het as ‘n vakansiebederf by die Montagu Country Hotel het uitgebrei tot ‘n inisiatief wat daagliks talle mense se lewens aanraak en verreik.
“Ek spandeer nooit geld op myself nie, daar is altyd iemand wat nood het” – Carol Bruton, stigterslid van RAM – Rescue Among Many.
Op ‘n keer besluit hulle om wel ‘n wegbreek te reël en eindig so in die Montagu Country Hotel op. Van stilsit hou Carol glad nie en hulle besluit om tydens die wegbreek te gaan stap waar hulle toe op ‘n tuinprojek afkom. Die vrou wat die tuin in stand gehou het was skraal en gegewe die koue temperatuur glad nie warm genoeg aangetrek nie. Carol se man, Stephen, het onmiddellik Carol se jas gaan haal en dit vir die vrou aangetrek.
Daar het hulle besluit dat hulle nooit weer hulle rug sal kan draai nie. En hulle het ook nie.
RAM is in 2011 gestig en word sedertdien deur beide Carol en Stephen daagliks bestuur. Carol het in 2017 die Lead SA-toekenning ontvang vir haar innoverende werk. Sy en haar man glo beide om te deel ver beter is as om, dit wat jy ontvang, vir jou self te hou. Hulle doen dit dan ook en spreek maklik hulle dankbaarheid uit oor dit wat hulle kry.
“Ons is nie ryk in geld nie, maar ons is ryk aan goedere.”
Carol volg ‘n sterk deursigtigheidsbenadering en gee alles wat inkom vir RAM aan mense in nood. Hoewel die invloed van RAM in die Montagu en Ashton-gemeenskappe sigbaar is, sê Carol dat armoede weens die heersende droogte toeneem. Sy noem ook dat met die verhoging in armoede daar meer werk is, en dat ekstra vrywillige hande tans ‘n groot behoefte is.
RAM is daarop gerig om die lewensomstandighede van jongmense, bejaardes, enkel ouers, plaasskole en straatkinders te verbeter. Met hulle hoofkantore in Thornton, Kaapstad, fasiliteer hulle projekte soos die verskaffing van lae koste behuising aan enkel ouers en oumas wat na kleinkinders kyk. RAM kon onder meer reeds vier huise oprig vir persone in nood. Wanneer die geleentheid homself voordoen is hulle sekondêre mandaat om skuilings aan diere te verskaf. Besoek RAM by www.ram1.co.za.
Bel gerus vir Carrol met enige skenings!
Tel: +27 82 469 3041
E-pos: info@ram1.co.za
Adres: Posbus 957, Eppingdust 7475
RAM is deel van die Tygerberg 104FM-Netwerk, jy kan ook wees, registreer. Vir meer oor die 104FM-Netwerk, of om een van ons #KleinSaterdag begunstigdes te wees, besoek ons NETWERK-skakel bo aan die blad.