Eendag lank lank gelede…wanneer sprokies waar word
Augustus 24, 2019
Deur Eunice Stoltz
“Hiermee verklaar ek dat Irefaan en Shanaaz Said wettig getroud is. Gee aan mekaar die ringe as teken van julle liefde en eenheid as man en vrou”. – Pastoor Marencia Westraat
Die Here het Irefaan en Shanaaz ‘n tyd gelede gaan opsoek waartydens hulle ‘n ander geloof beoefen het. Binne daardie tyd het die Here op ‘n wonderbaarlike wyse elkeen tot Sy kinders geroep.
Op Woensdag 21 Augustus 2019 is Irefaan en Shanaaz by die Elim Night Shelter tydens ‘n Christelike huwelikseremonie in die eg verbind. Wat vir beide ‘n langtermyn droom was, het binne twee weke ‘n werklikheid geword.
Personeellede van Radio Tygerberg 104FM het die idee om ‘n troue moontlik te maak, voorgestel. Dit volg nadat Minda Groenewald (ontvangsdame) en Eunice Stoltz (skakelbeampte), van Radio Tygerberg 104FM besoek by Elim Nagskuiling afgelê het. Irefaan en Shanaaz was beide inwoners by die skuiling. Vanweë die reël dat liefdeverhoudings nie binne die skuiling toegelaat word nie, is Irefaan na ‘n ander skuiling oorgeplaas. Intussen het hulle verhouding met mekaar asook met die Here gegroei en is hulle vandag amptelik man en vrou.
DIE TROUE
Tydens die heilige en mooi geleentheid is die teenwoordigheid van die Here tasbaar ervaar. Die Here se hand kon ook in die huwelikseromonie en onthaal gesien word. Vanaf dag een het organisasies, individue en die inwoners van Elim Nagskuiling saamgewerk om die dag in ‘n sprokiesverhaal te omskep. Ons gebed is dat Irefaan en Shanaaz die guns van die Here in hulle huwelik ervaar, maar veral dat hulle saam nader aan ons Hemelse Vader sal groei.
Spesiale dank aan almal wat die dag ekstra spesiaal gemaak het:
Mary’s Decor & Things
Abraham Darlow
Grant-Pierre van Wyk
Sedicks Hiring
Protea Hotel Cape Castle