Dis 63 kersies vir 104FM luisteraar!
Mei 23, 2019
Radio Tygerberg 104fm se Sedrick Taljaard en Rachel Marchus by Mariana Heath.
Sedrick Taljaard
Radio Tygerberg 104fm het op Maandag 20 Mei ‘n verrassings besoek gebring aan Huis Luckhoff in Rondebosch om een van sy inwoners en ‘n ywerige luisteraar, Mariana Heath, geluk te wens met haar 63ste verjaardag.
Sy is ‘n jaar of wat gelede in die tehuis opgeneem nadat sy weens ‘n beroerte verlam gelaat is. Haar verstand is helder, maar haar beweging is ingeperk. Sy is ‘n oujongnooi en was haar hele lewe lank ‘n verpleegster en teater suster by die Rooikruis Kinderhospitaal, waar sy 42 jaar diens gedoen het.
Mariana is vir solank soos Radio Tygerberg bestaan (26 jaar) ‘n lojale luisteraar. Sy het gesorg dat dit al stasie is wat in die hospitaal gespeel is en haar vriendinne wat haar met haar verjaardag besoek het, het vertel dat die radio in haar huis altyd ingeskakel was op 104fm. Sy was ook vroeër saam met Radio Tygerberg na Israel waar sy onder meer gedoop is.
Met Radio Tygerberg se besoek deur Sedrick Taljaard en Rachel Marchus is daar met kitaar begeleiding lofprysing gedoen in die vorm van koortjies, waaraan die personeel van Huis Luckhoff luidrugtig meegedoen het. Daar is ook vir Mariana, al die inwoners en die personeel van die tehuis gebid.
Mariana is ook oorlaai met geskenke, waaronder ‘n Radio Tygerberg koffietafelboek, ‘n Gospel Skouspel CD en ‘n radio, wat namens Mariana se familie deur Sedrick en Rachel aan haar oorhandig is. ‘n Verdere geskenk is dat sy binnekort verskuif word na ‘n enkelkamer in die tehuis waar sy voortaan ongestoord na haar geliefde Radio Tygerberg kan luister.