Die Here het nie van Wupperthal vergeet nie
April 29, 2019
Deur Sedrick Taljaard
Wanneer die Here in ’n saak is, sál Hy ‘n weg baan.
Dít het die Radio Tygerberg 104fm span en hul bedienings vennote weer eerstehands beleef kort voor Paasfees van 16-18 April tydens ‘n uitreik na die Morawiese sendingdorp Wupperthal.
Die visie vir ‘n besoek aan die gemeenskap van dié Sederbergse dorpie, wat op 30 Desember verlede jaar deur ‘n verwoestende brand feitlik heeltemal in puin gelê is, is gebore in die hart van omroeper-kollega Gerald Petersen.
Tydens ‘n aanvanklike verkennings besoek deur Gerald en nog drie kollegas op Woensdag 6 Februarie in die Radio Tygerberg 104fm Nissan Micra, het ons onder meer geleer dat jy eerstens so ’n tog liefs met ’n bakkie met goeie grondvry hoogte moet aanpak. Verder is vasgestel dat talle gesinne waardevolle herinneringe in die vorm van foto’s tydens die brand verloor het.
Op grond van dié inligting is daar toe werk gemaak daarvan om borge te werf om ‘n behoorlike uitreik na Wupperthal te kan reël. Ons is groot dank verskuldig aan Barloworld Toyota wat vir ons drie Toyota Hilux dubbelkajuit bakkies bewillig het, asook Print On Demand wat ‘n stewige kontant borgskap gegee het.
Intussen is telefonies oor en weer geskakel met verteenwoordigers van die gemeenskap, die kerk en die skool op Wupperthal vir die saamstel van ‘n program, asook die reël van verblyf en etes.
Die Radio Tygerberg 104fm span van sewe, insluitend Eunice Stoltz (skakelbeampte), Jean Muller & Rachel Marcus (beide bedieningsafdeling), Herschelle Lewis (tegniese span) en Sedrick & Sandra Taljaard (algemene bestuurder en eggenoot) het uiteindelik Dinsdag 16 April douvoordag met twee van die bakkies, gelaai met alle benodigdhede en toerusting, van die radiostasie se kantore in Parow af na Wupperthal vertrek. Na ‘n pitstop by Piketberg en die aankoop van proviant op Clanwilliam is die laaste sowat sewentig kilometer aangepak via die Pakuispas tot in Wupperthal.
Gerald, ook ‘n professionele fotograaf, het na ‘n hartlike ontvangs by die dorp se skool, sy toerusting opgestel en begin om klasfoto’s sowel as enkel foto’s van elk van die meer as 220 skoolkinders te neem. Dié foto’s gaan uiteindelik afgedruk word en met ‘n herbesoek aan Wupperthal aan die skool se personeel en leerlinge oorhandig word.
Die Dinsdagaand sesuur het Jean en Rachel meer as sestig vroue uit die gemeenskap bedien met woord en gebed tydens ‘n spesiale byeenkoms in die kerk. Die radiostasie se span het die vroue se voete gewas en hulle kon ook hul laste op papier neerskryf en dit aan die voet van ‘n kruis neerlê. Daar is kollektief en individueel vir die vroue, waaronder talle jongmeisies, gebid. Die gebedsbriefies by die kruis is terug gebring Kaap toe sodat Radio Tygerberg se gebedsvriende dit verder kan opdra in gebed.
Toe breek Woensdag 17 April aan. Die geskeduleerde buite-uitsending vanaf Wupperthal vroeg die oggend kon nie gebeur nie weens probleme met die Vodacom selfoontoring op die dorp. Tegniese hulp sou eers teen 11:00 opdaag. Toe het die span voortgegaan om vir die grootste gedeelte van die dag die laaste foto’s by die skool te neem. Die plaaslike kleuterskool het terselfdertyd ‘n verrassing gekry toe die Pikkewyntjies Pre-Primêre Skool van Bettysbaai, wat saam met Radio Tygerberg uitgereik het, verskeie benodigdhede, insluitend skryfbehoeftes, opvoedkundige speelgoed, soos legkaarte en boublokkies, en papier vir die afdruk van leerplanne, asook skopfietse vir die Wupperthal kleuters oorhandig het.
Deur die loop van die oggend het die RoepTV.com filmspan, Stefan Enslin en Armand Fourie, met die derde Toyota Hilux op Wupperthal aangekom vir die skiet van videomateriaal vir ‘n dokumentêre TV-program.
Kort op hul hakke was die bedieningspan van vyftien van die Gemeente van die Wynstok, onder leiding van ds. Tertius Bezuidenhout. Hulle het die strate van Wupperthal ingevaar om die inwoners op straat en aan huis te besoek, terwyl ‘n gebedspan in die kerk stelling ingeneem het.
Teen vieruur die middag, danksy tegniese toerusting wat een van die Wynstok gemeentelede byderhand gehad het, kon Gerald en Eunice agter die mikrofoon inskuif vir ’n regstreekse uitsending om luisteraars in die Kaap op die hoogte te bring van gebeure op Wupperthal deur vertellings en onderhoude met verskeie vername inwoners. Tydens die buite-uitsending is musiek gemaak met kitaar en trekklavier en is 200 stukke wors gebraai vir worsbroodjies waarmee die gemeenskap getrakteer is.
Die hoogtepunt van die besoek was die inskakeling van die Radio Tygerberg- en Gemeente van die Wynstok spanne die Woensdagaand van ses tot agtuur tydens die Morawiese kerk se gebruiklike nagmaalsvoorbereidings diens. Dit is die eerste keer in die 212 jarige bestaan van die kerk op Wupperthal dat enige organisasie toegelaat is om deel uit te maak van die tradisionele verrigtinge. Daar is eers luidkeels onder kitaar begeleiding lofprysing gedoen, waarna eerwaarde Jasmin Ratcliff, die plaaslike leraar, die nagmaalsvoorbereiding liturgie hanteer het. Daarna het ds. Bezuidenhout die Woord gebring vanuit Matteus 22 oor die Gelykenis van die bruilof. Ds. Bezuidenhout het in ‘n kragtige boodskap dit aan die toehoorders gestel dat die vraag is nie of jy eendag by Jesus se feesmaal gaan aansit of nie, maar of jy nou reeds aan die feestafel sit. Want as jy Jesus kies en Hom volg, bevind jy jou nou al aan Sy feestafel.
Teen laat die aand het ons vervuld met die gebeure van die afgelope twee dae terug gekeer na ons blyplek sestien kilometer van Wuppertal op die klein dorpie Heuningvlei. Die inwoners daar het ons tydens ons verblyf getrakteer met hulle vriendelike gasvryheid en smullekker tradisionele geregte.
Donderdagoggend 18 April het die spanne van Radio Tygerberg, RoepTV.com en die Wynstok Gemeente vroeg in die pad geval terug Kaap toe. Teen 12:30 die middag het ons almal by Radio Tygerberg se kantore in Parow aangesluit by die res van die radio en RoepTV-personeel vir ‘n nagmaals fees, gelei deur ds. Bezuidenhout. Die brood wat gebreek is, was asbrood van Heuningvlei se mense. ‘n Gepaste manier om die uitreik na Wuppertal mee af te sluit.
Ons is dankbaar oor die paaie wat die Here vir ons gelyk gemaak het tot in Wupperthal en terug en ons glo dat die mense van Wupperthal ‘n nuwe hoop in hul harte het dat die Here hulle nie vergeet het en nooit sal vergeet nie.