Dagstukkies met CLF 3 Maart 2020
Maart 3, 2020
As ons onseker is
“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!” (Psalm 42:6)
Hierdie Psalm is geskryf deur iemand wat op reis is deur die woestyn, op pad na Jerusalem, na die tempel toe. Die reisiger kry swaar en wonder of die Here hom nie vergeet het nie. Omdat hy so swaar kry, verlang hy na God. Hy verlang na die tempel. Hy dink ook aan die tye toe dit goed met hom gegaan het. Hy onthou hoe hy gesing en feesgevier het. Toe God naby hom was.
Baie kere in ons lewens gaan dit nie goed nie. Dinge loop verkeerd, en ons voel of God ons verlaat het. Dan moet ons maar net God se beloftes onthou. Hy sal sy kinders nooit in die steek laat nie.
Wanneer ons moeilike tye beleef, hou op twyfel aan God se liefde. Glo net, God is altyd daar, en sal ons troos en weer vreugde gee.
Liefdevolle Jesus, help my asseblief om nie te twyfel nie. Troos my in moeilike tye sodat ek weer vreugde sal hê. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.