Dagstukkies met Ziva 8 Februarie 2019
Februarie 8, 2019
Romeine 8: 14-15: #Identiteit
“Want die wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Julle het nie ‘n gees van slawerny ontvang om weer te vrees nie, maar julle het die gees van aanstelling as kinders ontvang.”
Nou eendag sien ek ‘n verslete man sit onder ‘n verbleikte sonsambreel by een van hierdie gewilde vlooimarkte in die Wes-Kaap. Sy stoel is gedaan en sy tafeltjie staan taamlik skeef.
Hy het moeg en afgerem gelyk, maar hy doen sy bes om mense te oortuig om ‘n boek te koop oor Hoe om vinnig ryk te word.
Ek kon amper nie my oë nie glo nie! Al het ek hom innig jammer gekry was die versoeking groot om in sy oor te fluister, lees die boek en doen wat daarin staan! So is dit ook soms waar vir ons as kinders van die Here. Ons het die bybel, God se lewende Woord, waarin ons sien dat God vir ons lewe wil gee. Hy wil ons, deur die Heilige Gees, geestelik ryk maak.
Ons karring egter soos bedelaars baie keer nog op vullishope van sonde rond. Ons loop in verslete klere onder verbleikte sonsambrele rond terwyl ons nuwe klere, skoongewas deur Jesus Christus kan dra. Ons lewens is leeg terwyl die Heilige Gees ons ‘n lewe gevul met liefde en oorvloed wil gee. In Romeine 8:14-15 staan daar geskrywe “Want die wat deur die Gees van God gelei word, die is kinders van God. Julle het nie ‘n gees van slawerny ontvang om weer te vrees nie, maar julle het die gees van aanstelling as kinders ontvang”.
Bid vandag: “Dankie Jesus dat ek nie ‘n bedelaar hoef te wees nie. Dankie vir ‘n nuwe lewe en ‘n skoongewaste identiteit gevul met liefde en oorvloed. Heilige Gees ek dank U ook vir geestelike rykdom wat my aanstelling is in U koninkryk!
In Sy Liefde altyd.