Dagstukkies met Ziva 6 Februarie 2019

Februarie 6, 2019

Jeremia 1:5#Identiteit

6 FEBRUARIE 2019

“Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het ek jou geheilig.  Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.” 

Ek wil vandag met jou gesels oor jou roeping want hierin lê ook opgesluit jou identiteit.  Hier wil ek graag Jeremia as lens gebruik en sy worsteling dat God sy volk vergeet het en ook dat hulle geweier het om God te erken.  Hulle was so nutteloos in die verhouding met God soos ‘n verslete gordel om iemand se lyf. Die Here was hierdie volk nie meer goedgesind en dit het Jeremia se hart gebreek maar nog steeds verkondig hy, dat soos ‘n kleipot gebreek word, sal die Here hierdie volk en hierdie stad breek.  Die ballingskap in Babel is hulle straf.  Die Here gaan hulle nie spaar nie en hulle deur hulle vyande laat wegvoer.  Ironies genoeg is die ballingskap egter ook hulle redding.  As deel van Jeremia se roeping om ook op te bou en te vestig, beskryf hy daarom die weggevoerde ballinge as ‘n mandjie goeie vye en in ‘n brief verkondig hy die Here se goeie guns aan hulle.

Deur die hele worstelingsproses kom motiveer God ook vir Jeremia met die volgende vier werkwoorde vir sy roeping: geken, gevorm,gewy (geheilig) en aangestel (gegee/gekies) wat ons dan ook lees in Jeremia 1:5.  Let op dat God hom ken nog voor die Here hom skep . God skep Jeremia volgens die prentjie wat Hy van hom het en voer dit deur met sy vorming in die moederskoot en daarbuite vir die roeping wat God vir hom het.  So ook het God ‘n prentjie van jou gehad  prentjie wat  voor jou vorming in jou moederskoot. Hy het ook geweet wat jou ware identiteit in Hom is, jou roeping en dat Hy jou geheilig het. Hierdie versekering gee diepsinnige perspektief op die lewe!  Vandag kan jy ook oor jouself verklaar dat jou identiteit  ‘n Goddelike prentjie is vir God en dat Hy jou ook wil gebruik soos ‘n Jeremia.  Dankie Jesus dat my identiteit  ook bestaan  uit vier werkwoorde, geken, gevorm, gewy en aangestel vir ‘n tyd soos nou.

In Sy Liefde altyd.