Dagstukkies met Ziva 28 Februarie 2019

Februarie 28, 2019

Romeine 12:20-21: #Dorstig

28 FEBRUARIE 2019

“As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen,maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Elke dag hoor en sien ons in die nuus dat geweld onhoubaar geword het in Suid-Afrika. Dat duisende mense in ‘n Christelike land, meer dikwels brutaal aangerand en vermoor word. Wat staan Christene te doen? Passief toekyk kan tog nie die antwoord wees nie! Ewe brutaal optree is uiteraard nie eers oop vir oorweging nie. Jou ander wang draai; ‘n tweede myl saamstap; jou onderkleed ook gee as jou bokleed gevra word?

Ons sug swaar en raak moedeloos maar ons moet weet dat wanneer jy die Here Jesus kies as Redder en Here van jou lewe, het ons nie ‘n ander keuse nie, want dit is nie meer ek wat lewe nie, maar die Here in my. Die groot vraag bly, wie is my regtige vyand? Efesiërs 6:12 sê tog so duidelik “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van hierdie wêreld, teen bose geeste in die lug. Ons moet staande bly ondanks die listige aanslae van die duiwel en nie kwaad met kwaad vergeld nie. Ons moet meer en meer die beeld van God vertoon. Dit toets ons Christenskap en dit is radikaal anders en nuut en die wêreld mag dink ons is gek. Die wêreld sal in vuurrooi skaamte staan want God het reeds hierdie wêreld oorwin.

Here help ons om elke dag U beeld na buite te leef teen ons vyande in die naam Van Jesus Christus. Amen

In Sy Liefde altyd