Dagstukkies met Ziva 18 Februarie 2019
Februarie 18, 2019
Johannes 4:23-24
“Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom so aanbid. God is gees, en die wat Hom aanbid moet in gees en waarheid aanbid.”
Baie jare terug was ek iemand wat van kerk na kerk gehop het agter predikers aan. Ek het so maklik gegryp na sodanige beter kerke of dat hierdie kerk dan kwansuis meer heilig is as die ander kerk. Sodra ons hoor van goeie predikers en herlewing hardloop ons ook gou daarheen.
Hoeveel van hierdie is bloot deel van ‘n vormgodsdiens en moes ek op ‘n dag op ‘n plek kom waar ek kon besef Jesus sny tradisies van vormgodsdiens heeltemal af. Die realiteit het ingeskop met die besef dat ek is die kerk, ek het my kerk!
Kerk is binne jou as persoon, want dis net binne jou waar jy God kan aanbid in Gees en waarheid. Dis net in ‘n een tot een verhouding met God (deur Jesus) dat jy hierdie aanbidding kan kry. As jy dit nie het nie, sal jy dit by geen byeenkoms of kerk kry nie.
As jy nie eers kerk is nie, sal kerk toe gaan jou niks help nie en sal jy altyd fout vind binne die kerk. Ek verstaan vandag hoekom mense steeds praat van dat die kerk dood is. Dit is wanneer ons eie persoonlike verhouding van intimitei t met God dood is dat ons saam praat. Wanneer ons egter toelaat dat Gees en waarheid persoonlik oorneem en jy in hierdie aanbidding kom, dan begin ‘n nuwe lewenswyse van kerk.
Laat ons vandag deel word van hierdie nuwe leefwyse van aanbidding na gees en in waarheid en dat ons nie net nog ‘n sitplek sal vol sit en tiendes gee nie. Hierdie nuwe lewenswyse met jou as die kerk en waar jy elke oomblik, goed of sleg in gesprek met God sal staan en weet dat Jesus ‘n duur prys betaal het vir hierdie een tot een verhouding met jou. Wees jy die nuwe geesvervulde kerk in Jesus se naam.
In Sy liefde