Dagstukkies met Ziva 14 Februarie 2019

Februarie 14, 2019

Romeine 8:37-39#Liefde

14 FEBRUARIE 2019


“In al hierdie dinge oorwin ons egter deur Hom wat ons liefhet, want ek is oortuig daarvan dat geen dood of lewe of engel of outoriteit of leermag of dinge wat nou bestaan of dinge wat nog sal kom of hoogte of diepte of enige ander skepsel in staat is om my af te sny van die liefde van God wat daar in ons meester, Yeshua, die Gesalfde Een, is nie.”

Jare terug, in ‘n tyd wat ek die swaarste gekry het, was daar baie vrae oor lyding en ongeregtigheid en rampe in my lewe.  Ek wou alles net met my kop uitredeneer. Ek wou alles netjies in boksies inpak, of eerder, ek wou dit inforseer. Maar ons kan nie vir God in boksies plaas nie.  Hy is lief vir ons al kom daar ook slegte goed oor ons pad.

Selfs al gaan ons deur ‘n dal van dood skaduwee, niks sal ons ooit kan skei van Jesus se liefde vir ons nie. Deur Sy liefde is ek en jy nie net-net, skraap-skraap oorwinnaars nie. Ons is meer as oorwinnaars. Die krag van die goeie is sterker as die krag van die bose. Die stryd tussen goed en boos is nie tussen gelyke magte nie. Goed sal altyd die slegte oorwin.

God se goedheid en Sy greep van liefde is genoeg om my en jou te dra en vas te hou sodat ons elke dag in oorwinning kan stap.  Hou vas aan God se belofte en die wete dat Hy ook reeds hierdie wêreld oorwin het en dit maak ons mede-oorwinnaars in Jesus Christus!

In Sy Liefde altyd