Dagstukkies met Ziva 11 Februarie 2019
Februarie 11, 2019
1 Johannes 4:10: #Liefde
“Hierin is die liefde: Nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en Sy seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.”
Almal van ons het al die volgende slagspreke gehoor; elkeen vir hom- of haarself, ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand. Die sondige wêreld is vol leuens, haat, vrees, materialisme, wellus en so baie ander dinge, dit vertroebel verhoudings tussen mense. Hierdie dinge kry baie maklik vashouplek in ons as kerk se lewens. Dit laat my ook dink aan ‘n teksvers in Galasiërs 5:15: “Maar julle byt en verskeur mekaar, pas op dat julle nie later mekaar heeltemal verslind nie.”
Maar dit hoef nie so te wees. Oorwinning is moontlik wanneer ons toelaat dat die Gees van God in ons heers. Daarom staan daar in 1 Johannes 4:10-11, werklike liefde is dit; nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur Sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
Geliefdes, as dit is hoe God Sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.
Liefde beteken dat ek en jy, soos Christus, bereid sal wees om vir ander te sterf. Dit gaan nie vir ons oor onsself nie. Jou belange kom voor ander. Jou behoeftes is dus kleiner as ander.
Liefde beteken dat ons Christus se voorbeeld sal volg en sal sterf aan ons eie ek. Dit gaan nie vir my oor myself nie. Dit moet gaan oor ‘n ander se belange en behoeftes wat voor joune moet kom. Dit is nie maklik om ander so lief te hê nie, maar as ek en jy toelaat dat die Heilige Gees in ons lewens oorneem, werk God se liefde vir ander mense in ons. As ons God toelaat, maak Hy dit vir jou en my maklik om Sy gebooie te gehoorsaam. Hy maak dit vir ons maklik om dan lief te hê. Verklaar dan vandag, Here ek gee myself ten volle aan U sodat U liefde uit my kan vloei na ander. U is en bly die enigste bron van alle liefde. Amen
In Sy Liefde altyd