Dagstukkies met Wayne en Chantelle 31 Oktober 2019
Oktober 31, 2019
2 Kronieke 20:22: #Sing
“Die oomblik toe hulle met ‘n juigkreet ‘n loflied begin sing, het die Here ‘n hinderlaag beskik teen die Ammoriete, Moabiete en die mense van die Seïrberg wat teen Juda opgetrek het, en hulle is verslaan.”
As jy hoor dat daar oorlog oppad is en dat dit jou werk is om die strategie bymekaar te sit van hoe jy gaan terug baklei teen die vyand is ons seker daarvan jou laaste gedagte gaan wees om te staan en sing. Reg? Natuurlik! Jou eerste gedagte mag dalk wees om sterk manne bymekaar te kry, seker te maak almal het goeie wapens en dan begin die strategiese beplanning van hoe jy die vyand gaan onkant betrap sodat jy in oorwinning kan wegstap. Toe Josafat egter hoor dat daar oorlog oppad is, het hy dadelik ‘n vasdag geroep oor die volk en gevra dat almal na God toe gaan in gebed en bid rondom hierdie saak. Die Here het deur ‘n man (Jagasiël) met hulle gespreek en hulle herinner dat Hy saam met hulle is en dat hulle nie hoef te vrees nie. God het vir hulle twee instruksies gegee: “Trek die vyand tegemoeg, julle gaan nie hoef te veg nie, neem net julle posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle” (eie woorde).
Die oomblik toe die manne met wapens gereed was die volgende dag, stuur Josafat voorsangers voor hulle uit wat lofsange begin sing het aan God, en die oomblik toe dit gebeur het God verwarring begin in die kamp van die vyand en hulle het teen mekaar begin draai en mekaar vernietig sonder dat Josafat en sy manne ‘n vinger hoef te gelig het. In die fisiese het die voorsangers bloot net gesing, maar geestelik was daar oorlog die oomblik toe hulle hulle monde oopgemaak het, en dit is presies wat gebeur die oomblik as ons God begin prys ten spyte van die oorlog om ons. Elkeen van ons het daagliks ‘n keuse om konstant die oorlog om ons in die fisiese te baklei, of ons het die opsie om posisie in te neem en God te begin loof en Hom te vertou om hierdie geveg namens ons te baklei.
Veg of #sing. Dit is ons opsies. Kies vandag om God te vertrou en om op Hom staat te maak. Neem jou posisie in en #sing soos ‘n vriend van God.
Van jou vriende,
Wayne & Chantelle