Dagstukkies met Wayne en Chantelle 30 Oktober 2019

Oktober 30, 2019

Jakobus 5:13:  #Sing                                                                        

As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid.  As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.”

In ‘n ander vertaling lees hierdie skrif as volg: “Is een van julle dalk in die moeilikheid? Laat hy dan met God gaan praat. As iemand goed of gelukkig voel, moet hy liedere sing wat vertel hoe goed God vir hom is” (DB).  Hierdie skrif herinner ons dat gebed en lofprysing hand aan hand gaan. Ons leef in ‘n era waar baie mense die krag van gebed onderskat en wat ook glad nie meer glo dat gebed deel moet wees van ons geestelike wandel nie. Dan praat ons nie eers van lofliedere sing aan die Here nie. Die groot vraag vandag aan jou is: Glo jy nog daarin? Dat God gebede verhoor en dat ons lofliedere aan God moet bring? As jou antwoord ja is – hoe lyk jou gebedslewe en getuig jy nog aan ander oor die goedheid van God en sing jy nog gereeld lofliedere aan die Here en vertel jy nog vir Hom hoe goed Hy vir jou is?

Die lekker daarvan is dat God belangstel in ons hele wese en dat Hy betrokke wil wees in die fynste detail van ons lewe. Daarom kan ons gebruik maak van elke geleentheid om lof aan Hom te bring en vir Hom te vertel hoe goed Hy vir ons is. Terwyl ons bestuur, ‘n lied hoor op Radio Tygerberg 104fm, in ‘n winkelsentrum stap of alleen met Hom tyd spandeer.  As jy dit lanklaas gedoen het wil ons jou vandag opnuut uitdaag en jou vra vir die volgende 24 uur om nie een keer vir God iets te vra van wat jy van Hom wil hê nie, maar vertel Hom net hoe goed Hy vir jou is.

#Sing met jou woorde, #sing met jou leefwyse, #sing van God se goedheid, #sing soos ‘n vriend van God.

Van jou vriende,

Wayne & Chantelle