Dagstukkies met Wayne en Chantelle 1 November 2019
November 1, 2019
Eksodus 15:2: #Sing
“Die Here is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Homs al ek verhef.”
In Eksodus 14 lees ons van een van die wonderlikste wonderwerke wat God gedoen het. Moses en die Israeliete word vervolg deur Farao en die Egiptenare en in hulle poging om te vlug stop hulle voor die Rooisee en het hulle nêrens om heen te gaan nie. In ‘n oomblik word hulle vreesagtig en is hulle bang, maar God gee hulle bevel om nie te vrees nie. Later praat die Here met Moses en soos Moses sy kierrie oor die see uitgesteek het, het die Here die see oopgekloof sodat die Israeliete op droë grond deurbeweeg. Toe Farao en die Egiptenare later deur die droë see wou deurbeweeg het die water weer teruggekeer na normaal en in die proses is almal dood en het God verlossing gebring aan Sy volk.
In Eksodus 15, na die oorwinning, besluit Moses om eer te bring aan die Here en sing hy ‘n lied tot eer van die Here. Deel van hierdie lied was die woorde van Eksodus 15:2: “Die Here is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef.” Wat so mooi is van hierdie skrif is die feit dat God oorwinning bring aan Moses en die volk, maar dat hulle dan dadelik ‘n loflied aan God #sing. Hierdie skrifgedeelte herinner ons dat ons lof moet bring aan God vir alles wat Hy vir ons doen. Hoeveel bid ons nie oor ‘n situasie nie en ons vertrou die Here vir deurbraak, wonderwerke en verandering, maar die oomblik as dit realiseer laat ons na om Hom te dank daarvoor en om eer en lof aan Hom te bring. Mag ons die gewoonte aanleer om na elke mylpaal, na elke oorwinning en na elke deurbraak te stop en aan God ‘n loflied te #sing wat eer bring aan Hom.
Neem vandag en dink aan geleenthede waar jy dalk nagelaat het om dankie te sê, en eer en lof aan God te bring soos ‘n vriend van God.
Van jou vriende,
Wayne & Chantelle