Dagstukkies met Wayne & Chantelle 29 Oktober 2019

Oktober 29, 2019

Efesiërs 5:19:  #Sing                                                                         

Laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.”

Hierdie eenvoudige skrif van slegs 25 woorde bevat drie dinge wat ons moet doen as seuns en dogters van God.

1) “Laat die Gees julle vervul”: Het jy geweet dat as jy ‘n ballon opblaas en ‘n vuurhoutjie aansteek en onder die ballon sit, bars die ballon dadelik. Dit is letterlik ‘n sekond of twee dan bars die ballon omdat daar hitte onder hom geplaas word. Maar as jy ‘n bietjie water in ‘n ballon sit en jy blaas dit dan bietjie op en jy doen dieselfde, bars die ballon nie. Hoekom? Want die water aan die binnekant van die ballon absorbeer die hitte van die vlam en keer dan dat die ballon bars. Presies dieselfde gebeur met onss. Sonder die Heilige Gees (water) in ons lewe (ballon), sal ons bars as ons deur moeilike tye gaan (vlam). Ons sal nie alleen en deur ons eie krag staande kan bly nie, maar as ons vervul word met die Heilige Gees help Hy ons om sterk te bly staan al gaan dinge om ons moeilik. Hierdie skrif gee ons opdrag om ons lewe oop te stel sodat ons vervul moet word met die Heilige Gees, maar om dit te doen moet ons “ja” sê.

2) “Sing onder mekaar”: As ons vervul word met die Heilige Gees veroorsaak dit dat strome lewende water in ons binneste begin vloei. Ons sal nie anders as om God se naam groot te maak nie. Om dan lof aan Hom te bring is dan ‘n natuurlike reaksie. Wat mooi is van hierdie skrif is die feit dat ons nie alleen moet vier en aan God moet sing nie, maar dat ons dit moet doen onder mekaar. Ons kan onsself nie keer om te dink watter impak dit kan hê onder vriende, tussen familielede, in jou huwelik en hoe jy dalk kinders grootmaak as ons konstant die goedheid van God “onder mekaar” besing nie. Jou lied word dan direk die motivering en stigting van iemand anders se geloof.

3)  Laastens het ons die opdrag om te sing “met (ons) hele hart”. Sing jy werklik met jou hele hart? Of is daar dalk vandag goed waarvan jy weet wat jou weerhou om God te loof met alles? Vrees, bekommernis, woede, jaloesie, bitterheid, noem dit wat jy wil. Ons moet seker maak dat ons hierdie dinge uit ons lewe verwyder sodat ons lied aan God nie belemmer word met enige iets anders nie.

Kom ons sê “ja” vir God, kom ons #sing onder mekaar, en kom ons #sing met ons hele hart soos ‘n vriend van God.

Van jou vriende,

Wayne & Chantelle